Skip to main content

Sakeondernemings in Suid-Afrika wat nog net-net oorleef het is nou op die drempel om geheel en al vernietig te word.
Nie net beteken die nuutste inperkings op vlak 4 ‘n verdere knou vir die gasvryheidsbedrywe nie, maar ander besighede is ook teen die toue.
Daar is nie meer hulpbronne beskikbaar vir sukkelende besighede nie.
Hordes besighede se huur raak net verder en verder agter met geen vooruitsig om dit ooit weer op datum te bring nie. Dit volgens Michelle Dickens, uitvoerende hoof van die kredietburo TPN.
Omdat daar verwag word dat die huidige inperkingstydperk verleng sal word en daar nog geen positiewe onderneming van die regering se kant af is om sukkelende besighede te hulp te snel nie, lyk die vooruitsig vir besighede om kop bo water te hou bra donker.
Dickens het bevestig dat die Property Industry Group R3 miljard se huurhulp verleen het aan kleinhandelaars in die KMMO tydens die eerste vlak 5 grendelperiode.
Alhoewel restaurante aflewerings mag maak, kom ‘n beduidende deel van hul wins uit alkoholverkope. Steve Maresch, mede-eienaar van die Local Grill in Parktown-Noord, het gesê hoewel die onderneming alles in sy vermoë doen om die wegneemkonsep te laat werk, is dit uitdagend.
Ander uitdagings is om verpakkings te vind wat beskadiging tydens aflewerings goed weerstaan of ‘n duur stuk biefstuk voor te berei op so ‘n manier dat dit nie oorgaar is nie.
“Ons huur is agterstallig,” het hy gesê. “Ons is al 18 jaar in hierdie gebou, en hoewel die plaaslike gemeenskap en ons verhuurder die afgelope jaar ongelooflik ondersteunend en lojaal was, kan dit nie ontken word dat dit ‘n baie moeilike tydperk was nie. Ek weet net dit: ons het al ons bronne uitgeput. As ons tydens hierdie jongste beperkings ons deur moet sluit, sal ons nie weer oopmaak nie.”
Dit beteken dat 26 personeellede sowel as drie bestuurders en twee mede-eienaars – waarvan die meerderheid die primêre broodwinners in hul onderskeie gesinne is – tot die geledere van werkloses sal toetree.
“Ons betaal deesdae die meeste van ons aflewerings kontant. Nie ek of my vennoot het die afgelope jaar ‘n salaris getrek nie. Sedert die aanvang van Covid het ons ‘n marginale onderneming geword.”
Mark Johnston, mede-eienaar van die Turn ‘n Tender in die Cresta-winkelsentrum, staar ‘n soortgelyke dilemma in die gesig. Die onderneming, wat net drie jaar oud is, probeer nog steeds om nuwe besigheidskuld te delg.
“Die alkoholverbod het ‘n groot druk op die onderneming geplaas, wat die omset aansienlik verminder het. En hoewel ons van 2020 af stadig aan die herstel was, het ons steeds nie die omsetvlakke van voor Covid bereik nie,” het hy gesê.

Wendy Alberts, uitvoerende hoof van die Restaurant Association of South Africa, het aan Business Maverick gesê dat byna ‘n miljoen werkgeleenthede in die restaurantbedryf die volgende paar weke in gevaar sal wees.
Hotelle is ewe hard getref. Verlede week het Sun International besluit om al sy hotelle en oorde tydelik te sluit nadat die nuwe beperkings aangekondig is.
Die sektor vir kommersiële vaste eiendom het pas tekens van herstel begin toon, met ‘n geringe verbetering in die aantal kommersiële huurders met ‘n goeie reputasie, net voordat hierdie jongste beperkings aangekondig is.

Leave a Reply