ISAAC CLOETE
Inwoners van die Springbok-omgewing ly steeds aan bomskok na ‘n groot skudding.
Dit was so erg dat baie, so deur die slaap en skok, dadelik begin bid het.
Die skudding het ongeveer 1:39vm om Dinsdag-oggend gebeur, terwyl die meeste inwoners nog lekker knus geslaap het.
Volgens die Raad vir Geo-wetenskappe(CGS) het dit ‘n vlak diepte van ongeveer 10km by sy episentrum bereik. Vroeë data wys dat die episentrum byna 43km suid-oos van Springbok in die Nama Khoi- area was. Die lesing was waarskynlik 4.2 op die Richterskaal.
Inwoners het voor eenuur gisteroggend die “vreeslike” skudding gevoel. Volgens ‘n plaaslike verslaggewer het hy ongeveer 1:40 wakker geskrik en n groot geraas gehoor. Hy het gesê: “Die vensterruite het ook begin rittel en dit het vir etlike sekondes aangehou. Gewoonlik blaf die honde sporadies hier. Vanoggend het hulle egter baie ‘snaaks’ en aanhoudend geblaf. Hulle was onrustig en dit moes vir hulle dramaties gewees het.”
Ander inwoners vertel dat hulle baie bang was en nie weer kon slaap nie. Baie het eerder op hul knieë geval en gebid.
Emile Bugan van Okiep het laat weet dat sy rekenaar se skerm selfs omgeval het. Volgens hom was die skudding die ergste ooit in hierdie dorp.
In Carolusberg, waar een van die grootste en diepste kopermyne in Suid-Afrika is, was die skudding glo baie erg volgens inwoners. Die myn het een van die langste ondergrondse tonnels.
Volgens Ronel Bonn was dit nogal erg. Die dak en vensters van hulle huis het lank gedreun.
Seismoloë kan die ligging van die episentrum en diepte van die skudding aanpas soos nuwe data beskikbaar word, het CGS vertel. Voorlopige inligting dui daarop dat geen strukturele skade in Springbok self en ander dorpe daar naby gebeur het nie.
Blykbaar was daar vroeër ook sulke skuddings by Loeriesfontein in die Hantam-gebied. Dit was egter ligter.
Inwoners bly egter bekommerd want volgens hulle gebeur sulke skuddings al meer en meer. Baie glo dat dit is as gevolg van die verskeie en langdurige mynbou-aktiwiteite in Namakwaland.
Dit is ook bekend dat afvalkernkrag by Vaalputs gestort word. Dit lê in die area waar die skudding waarskynlik erg gevoel Is.
Foto: Bergsig, net buite Springbok