Water is lewe en daar gaan nie ‘n dag in enigeen van ons se lewe verby dat ons nié water benodig of gebruik nie.
Sonder water sal daar geen lewe op aarde wees nie en ons neem dikwels die wonderlike kwaliteite van water as vanselfsprekend. Hier volg ‘n paar interessante waterfeite:
Water is energie
Drink ten minste agt glase water per dag om gesond te bly. Veral nou tydens die koronavirus-pandemie moedig gesondheidswerkers pasiënte aan om seker te maak hulle drink genoeg water, juis omdat water herstel bevorder.
Die liggaam maak staat op water om afvalstowwe en gifstowwe uit te spoel. Ontwatering gaan gepaard met mislikheid, lighoofdigheid en verwardheid en dit lei ook tot spierkrampe, nierversaking en die dood. Selfs geringe ontwatering het slegte gevolge en as die watervlak in jou bloed daal, kan die brandstof en ander voedingstowwe in jou liggaam nie effektief vervoer word nie en daarom voel jy tam en sonder energie.
Jou brein kan ook nie optimaal funksioneer as jy liggies gedehidreer is nie.
Ons verwar dikwels dors met hongerte en baie mense peusel aan iets terwyl hul eintlik net dors is.
Moenie jou dors met koffie of gaskoeldrank probeer les nie, die suiker gaan jou net dorser laat voel en die kaffiëne in koffie dehidreer jou net meer. Drink ‘n glas water om namiddagmoegheid te voorkom. Skop jou metabolisme soggens aan die gang deur ‘n glas warm water en suurlemoensap te drink.
Jou liggaam gebruik net soveel water terwyl jy slaap as wanneer jy wakker is en daarom is dit goed om jou dag met ‘n glas water te begin.
As laegraadse ontwatering te lank aanhou, raak jou simptome erger: droë krapperige oë, droë vel wat nie elasties is nie, hardlywigheid en nierstene.
Water en Covid-19
In die boek Food is Better Medicine than Drugs sê die Britse skrywers Patric Holford en Jerome Burne dat agt glase water sal help om hoë bloeddruk te beheer. Te min water laat die soutvlakke binne selle styg, wat bloeddruk verhoog.
Maak jou eie soutwateroplossing aan deur ‘n teelepel sout by ‘n liter afgekoelde kookwater te gooi en gebruik dit as neussproei om slym in die lugweë en neusgange op te los. Stoom is net so ‘n goeie manier om jou lugweë oop te kry – gooi ‘n teelepel Vicks of kamferolie in ‘n bak met kookwater en hou ‘n handdoek oor jou kop terwyl jy die stoom inasem. Wees versigtig om nie te brand nie. Doen dit sommer elke twee uur om slym los te maak.
(Dit is ook raadsaam om elke dag nadat jy gestoom het op jou knieë te sit met jou kop onder op die grond. Op dié manier kry jy daardie dik slym wat onder in jou longe vassit, boontoe en kan jy dit uithoes.)
Water verbeter jou liggaam se immuniteit deurdat dit rooibloedselle vermeerder terwyl dit suurstof na die longe verbeter.
Omdat dit noodsaaklik is vir jou ledemate om te kan beweeg, keer dit artritis en rugpyn en water is ook regstreeks verantwoordelik vir die produksie van alle hormone wat deur die brein afgeskei word, insluitend melatonien.
Vir ‘n seer lyf word daar aanbeveel dat jy in ‘n warm bad gaan lê waarin drie eetlepels Engelse sout opgelos is.
(Lees meer op die webwerf facty.com/food/nutrition/12-health-benefits-of-drinking-water)
Alternatiewe terapie met water
Watergeboortes is deesdae ‘n gewilde opsie vir vroue wat normaal wil kraam en baie van ons land se voorste klinieke gebruik ook waterterapie vir rehabilitasie. Dis soos fisioterapie in water met lae impak op die spiere.
Watse water?
Baie mense weier om hul lippe aan kraanwater te sit, terwyl plekke soos Gauteng se drinkwater van hoë gehalte is. Daar word jaarliks ‘n bloudruppel-waterverslag deur die minister van waterwese uitgereik en daarvolgens is die status van kraanwater in ons land in die algemeen goed.
Mense is dikwels baie begaan oor die gebruik van plastiekstrootjies, maar vergeet maklik dat die voetspoor van plastiekwaterbottels ‘n baie ernstiger ekologiese impak op die omgewing het. Byna 90% van die rommel wat in die wêreld se oseane dryf, is plastiek en baie van daardie plastiek is juis die van koeldrank- en waterbottels.
Volgens Plastic Recycling South Africa (www.plasticrecyclingsa.co.za) koop Suid-Afrikaners jaarliks
miljoene plastiekbottels met koeldrank en water en sowat 77% daarvan word nie herwin nie. ‘n Verenigde Nasies-verslag hieroor sê vier uit vyf plastiekbottels beland op vullishope waar dit meer as ‘n eeu vat om te biodegenereer.
Onthou, boonop word gebottelde water dikwels myle en myle ver op trokke vervoer – wat die koolstofvoetspoor ook net verder vergroot. Nie alle water wat jy in klein winkeltjies en kafees koop word gereguleer nie en die kans is goed dat jy sommer net doodgewone kraanwater koop.
Wees ook versigtig vir allerhande waterfilters en -foefies. Party van die waterfilters wat ten duurste verkoop word, filter ook belangrike minerale uit water uit.
Nog interessante waterfeite:
Rand Water (www.randwater.co.za) gee op hulle webwerf nog interessante waterfeite:
Die liggaam verloor elke dag omtrent 1.5 liter water.
Vir elke koppie koffie, tee of koeldrank wat jy drink, verloor jou liggaam twee koppies water wat vervang moet word.
Water is noodsaaklik om koolhidrate, proteïene en vet in jou liggaam te absorbeer.