Skip to main content

Die Laerskool Dr. Havinga is ‘n rots in die Witpoortjie-gemeenskap sedert die deure in 1953 geopen het . Alhoewel daar slegs 193 leerlinge en 7 onderwysers was met die opening, het dit gegroei tot ‘n skool wat vandag die tuiste is vir meer as 1 300 minder gegoede leerlinge en 56 onderwysers.
Hierdie skool is gevestig in ‘n area wat oor die laaste tien tot twintig jaar geweldig agteruit gegaan het. Voorheen was dit gesien as ‘n skool vir kinders uit die middelklas, maar deesdae bevat dit kinders uit huise wat klassifiseer as ‘laer-inkomstegroep’. Natuurlik beïnvloed die agteruitgang nie net vir Havinga nie, maar al die skole in die omgewing.
Omdat die meeste van die ander laer- en kleuterskole in die buurt verander het na Engels-medium skole, beteken dit dat Havinga uitstaan as die enigste oorblywende Afrikaanse skool in die omgewing!
‘n Besluit deur Havinga se bestuur aan die einde van 2020 – om ‘n kleuterskool aan te skaf wat sodoende die voer na Dr. Havinga steeds oorwegend Afrikaans sal hou – besorg dié bereidwillige gemeenskap baie finansiële hoofbrekens.
JSIM Creations, ‘n klein tweemansaak, het Die Waarheid genader om hulp. Een van die eienaars, Rialda Zeelie, is self ‘n produk van hierdie fantastiese skool. Sy sê: “Dit is ‘n skool met waardes wat oor tyd en grense strek, en dit is my hoop dat mense saam met ons sal staan om ons droom te realiseer waarin ons sodoende nie net ons skitterende taal se voortbestaan sal verseker nie, maar boonop duisende kinders die geleenthede te gee wat ek ontvang het.
In die huidige ekonomiese toestand, gepaard met die “lae inkomste-area” waarin die skool veg om voortbestaan, is dit vir die betrokkenes bykans onmoontlik om die skooltjie weer op leefbare standaard te bring wat toerusting, meubels, verf en ander basiese behoeftes betref sonder hulp van buitestaanders.
Hier is ‘n lys van basiese items en dienste wat hulle dringend benodig:
• Die muur voor die kleuterskool moet geverf word. Ons het baie gewillige hande om dit te verf, maar nie mense wat mooi kan teken nie! Ons het dus ‘n kunstenaar of twee nodig, asook verf en kwasse.
• Tans is daar een of twee legkaarte per klas, maar dis glad nie genoeg nie. Ons wil graag met die projek genoeg legkaarte en ander opvoedkundige speletjies vir die skool aanskaf sodat elke kind ten minste sy/haar eie een het.
• Basiese opvoedkundige materiaal soos storieboeke, aktiwiteitsborde, en ander materiaal is nóg ‘n groot skaarste by dié skool.
• Die sandput kort nuwe, skoon sand.
• Enige klimraamtoerusting vir woelige kleuters sal uiters welkom wees, asook enige ander speelgoed wat kleintjies kan besig hou.
• Daar is tans nie een stukkie meubel in die voorportaal nie, wat die skooltjie meer soos ‘n verlate gebou as vriendelike, verwelkomende skool laat lyk. Ons wil graag meubels vir die voorportaal asook die personeelkamer aanskaf.
• Daar is alreeds heelwat gedoen in die kort tydjie vandat hulle die kleuterskool bekom het, maar daar is geen ekstra fondse beskikbaar nie. Dit wat daar is moet aangewend word vir die dag tot dag bestaan van die skool.

Die voortlewing van Afrikaans is van uiterste belang in Suid-Afrika, en ons glo dit begin op grondslagfase. Daarom poog JSIM Creations om in September ‘n ‘Havie Haasbekkie Gholfdag’ aan te bied om sodoende vir die personeel en bestuur van Havinga die hulpbronne te voorsien om hierdie projek ‘n langtermynsukses te maak.
As u dus ‘n donasie wil maak vir die huur van die golfbaan, of ‘n vierbal wil inskryf, hoor ons graag van u!
Ons benodig warm harte, en enige donasies, (maak nie saak hoe gering nie) om te verseker dat Afrikaans nie ook in hierdie skool sneuwel nie.
U kan gerus die hoof van Laerskool Dr. Havinga, of die hoof van Opvoedkundige Leiding skakel indien u meer inligting versoek:
Mnr. Marius Swanepoel – 083 380 1553
Me. Marina Breed – 083 634 9784

Leave a Reply