Skip to main content

Die afgelope Sondag was nie die eerste keer dat die Suid-Afrikaanse fietsryer Nicholas Dlamini (Qhubeka NextHash) gewys het presies hoé dapper en moedig hy regtig is nadat sy Tour de France ren op ‘n wrede manier geëindig het nie. Dlamini (25), die eerste swart Suid-Afrikaanse deelnemer aan die Tour de France, het tydens die negende skof nie die afsnytyd gehaal nie en hy mag daarom nie verder aan die ren deelneem nie.

Dlamini was einde 2019 in die nuus nadat sy arm deur ‘n veldwagter in die Tafelberg Nasionale Park in Kaapstad (sy geboortestad) tydens ‘n vroeë oefensessie gebreek is en hoewel hierdie insident byna sy drome om aan die Tour de France deel te neem verpletter het, het hy toe al gewys dat hy hom nie sommer laat onderkry nie.

Sondag se Tour de France-skof tussen Cluses en Tignes wat oor 144,9 km gestrek het was meedoënloos. Die skof het twee katergorie 1-, twee kategorie 2-, asook ‘n hors catégorie-klim ingesluit en boonop was dit ‘n yskoue, reënerige dag. Nadat Dlamini ‘n slegte val beleef het, het hy hom in ‘n stadium heel agter in die skof bevind en hoewel baie van die ander ryers eenvoudig in hul ondersteuningsvoertuie geklim het, het Dlamini besluit om verder te ry en die skof klaar te maak – hoewel hy geweet het hy gaan dit nie binne die afsnytyd doen nie. Dlamini het amper 90 minute ná die skofwenner, Ben O’Connor geëindig.

Op sy Facebook-blad het Dlamini ‘n hartroerende inskrywing gemaak waarin hy skryf dat “deur te sê ek is teleurgestel en hartgebroke om nie in staat te wees om die @letour klaar te maak nie, is om dit baie lig te stel. Sedert ek die eerste keer in my lewe die TDF gekyk het, was ek meegevoer deur hoe die ryers die bykans onmoontlike vermag. Dit was my droom om eendag self deel te neem aan die wêreld se grootste fietsren, terwyl ek presies geweet het hoe moeilik dit gaan wees net om by die beginpunt te kan staan.

“Toe ek die oproep gekry het dat ek deel van die TDF-span kan wees hierdie jaar, was ek oorweldig deur soveel gelukkige emosies. Nou kan ek sê my droom het realiteit geword en ek hoop om die jongelinge tuis te inspireer. Ek hoop hulle kan ook aan hul drome vasklou en in hulself begin glo.

“Gister was brutaal – reën, koue en ‘n baie slegte val het ‘n skof wat alreeds moeilik was, soveel moeiliker gemaak. Hoewel ek geweet het ek sal nie die afsnytyd maak nie, wou ek respek aan die sport en my span gewys het. Dit was nog altyd my droom om die wedren klaar te maak en ek sal altyd bly wees dat ek dit gedoen het,” skryf Dlamini.

Volgens hom was die negende skof van 2021 se TDF by verre die moeilikste dag wat hy nog ooit op sy fiets beleef het. Dit was ysig koud en die ryers het van die begin af reeds sopnat gereën. Ná die val wat hom sy toer gekos het, was daar nog 25 km opdraande oor. Dlamini het tydens ‘n perskonferensie Sondag vertel sy lyf was so bevrore dat hy nie eens iets uit sy sakke kon kry om te eet of om selfs sy waterbottel vas te hou nie.

Nog ‘n Suid-Afrikaanse ryer, Stefan de Bod (Astana-Premier Tech) het ook nie Sondag se skof binne die afsnytyd voltooi nie.

Hy gaan nou al sy aandag en fokus toespits op die Olimpiese Spele in Tokio wat later in die maand plaasvind.

Leave a Reply