ISAAC CLOETE
Daar word gespot dat al wat by die hof in Springbok oor is wat nog werk, die outydse muurhorlosies in die hofsale is.
Die chaos hier word voor die deur van die Springbok-hofbestuurder, Disang Mosimanyana gelê.
Vrydag is ‘n verslaggewer deur ‘n sekuriteitsbeampte sonder masker verhoed om die hofterrein binne te gaan. Volgens die sekuriteitsbeampte was dit Mosimanyana se opdrag.
Aanvanklik het Mosimanyana gesê die verslaggewer moet aansoek doen as hy oor ‘n saak wou verslag doen. Toe die verslaggewer antwoord dat daar slegs aansoek gedoen word as foto’s in die hof geneem word, het Mosimanyana net sy skouers opgetrek.
Hy het gesê dis vroue-landdros Fiona Hess se opdrag dat geen joernalis Vrydag toegelaat sou word nie.
Hess is die voorsittende beampte in die saak van drie buitelanders (Nigeriërs) wat na maande steeds swoeg om borgtog te kry. Hulle staan tereg op dwelmverwante klagtes.
‘n Lid van AfriForum, Sarel Stone, wou as vriend van die hof die verrigtinge bywoon. Hy is egter onbeskof teruggeroep sonder verduideliking en moes die hofterrein verlaat. Stone het gesê: “Sulke optrede spreek van onbevoegde personeel. Verder is hier ‘n groot kommunikasie-gaping tussen hof en publiek. Die hofbestuurder het sy magte misbruik. Daar moes ten minste ‘n kennisgewing gewees wat aandui waarom mense weggewys word.”
Plaaslike inwoners baklei al dekades vir ‘n nuwe, moderne hofkompleks. Hulle kla oor verwaarloosde fasiliteite en die swak diens van veral sommige hofpersoneellede.
Selfs advokaat William Booth, wat die drie verdagtes verteenwoordig, het onlangs gal gebraak. Hy het selfs die hofklerke bygekom wat versuim het om sekere dokumentasie betyds by hom uit te kry.
Tydens ‘n ander sitting was Booth boos toe dit bekend geword het dat ‘n stenogram buite werking was. Die borgtog-aansoek van die drie buitelanders moes toe noodgedwonge uitgestel word.
Booth het toe gesê: “Dis die eerste keer dat ek so iets beleef. Boonop is hier te min hofsale, landdroste en aanklaers.”
Mosimanyana het gesê hy gee nie om of hy verkla of sy bestuurspraktyke aan die kaak gestel word nie.
* Vrydag se voorval is reeds aangemeld by hoër outoriteite.
Baie goeie verslag.