Skip to main content

En daar begeef oud-president Jocob Zuma se moed hom. Die 79-jarige Zuma, wat tot nou toe ewe grootbek gespog het dat hy nie bang is om tronk toe te gaan nie, kry nog grasie nadat die konstitusionele hof gister besluit het om ‘n dringende tersydingstellingsaansoek of pleit vir vonnisversagting op 12 Julie aan te hoor.

Zuma, wat die afgelope week tot 15 maande gevangenisstraf vir minagting van die hof gevonnis is, moes vandag vir sy tronkstraf aanmeld.

Die konstitusionele hof het in sy uitspraak die minister van polisie, Bheki Cele, beveel om stappe te neem om te verseker dat Zuma agter tralies beland as hy nie vandag op die laatste by die tronkdeure aanmeld nie.

Zuma het tot nou toe halsstarrig geweier om enige voorlegging te maak wat die konstitusionele hof se uitspraak en vonnis in sy minagtingsaak kon bystaan. Vrydag het sy ondersteuners in groot groepe met openlike verontagsaming van Covid-regulasies op KwaZulu-Natal toegesak en hulle spiere gebult in verwerping van die uitspraak.

Nou voer hy aan dat die tronkstraf weens sy ouderdom in die huidige Covid-19-pandemie op ‘n doodsvonnis neerkom.

Dit is ironies dat JZ nou skielik vir sy lewe vrees in ‘n korrektiewe opset wat veral onder hom deur kader-ontplooiing, korrupsie en skaamtelose wanadministrasie tot ‘n nes ontwikkel is.

Met Zuma se korrupsiesake wat voorlê, het Suid-Afrikaners die afgelope week hoop gekry dat die uitspraak bewys dat niemand bo die wet – en veral die grondwet – verhewe is nie. Niemand gaan hulle verkwalik as hulle nuutgevonde vertroue na die mees onlangse verwikkelinge wankel nie.

As Zuma se ondersteuners so tekere kan gaan oor ‘n goedgegronde minagting-uitspraak, wie kan glo dat hulle die regstelsel nie gaan probeer gyselaar hou om die uitsprake en moontlike vonnis in die komende verhoor te manipuleer met geweld en minagting nie?

Die komende weke gaan groot druk op president Cyril Ramaphosa plaas om te wys dat Ramaphosa die oppergesag van die reg respekteer en dit sal afdwing – ongeag van wie betrokke is.

As Ramaphosa wil hê Suid-Afrikaners – en belangriker nog, beleggers – moet glo dat daar ‘n toekoms vir geregtigheid en regverdigheid in die land is, moet hy seker maak dat die land eenparig agter die reg staan en hierdie aansoek die laaste van Zuma se speletjies voor die howe van die land is.

Ramaphosa, wie self vandeesweek in die kollig was met die uitspraak in die CR17-aansoek, probeer homself as die kampvegter teen korrupsie vestig. As hy toelaat dat die sepie rondom sy voorganger verder uitgerek word, sal dit baie mense – hier en oorsee – oortuig dat dit net lippetaal is.

Cele, wat daarvan hou om sy manne en vroue aan te hits om laaghangende vrugte soos branderplankryers en tabakrokers te boelie, het duidelik nie die moed van sy oortuiging om die integriteit van die reg te beskerm nie.

Dit het tyd geword dat Ramaphosa hierdie hanswors vervang met iemand wat die ruggraat het om orde en reg te beskerm, anders gaan dit nie gebeur dat die mense wat in oranje oorpakke hoort daarmee toerus word nie. Korrupsie moet nou uitgeroei word en dit moet gesien word dat die regering optree – sonder aansiens des persoon.

En daar moet in Ramaphosa se eie huis – die ANC – begin word sonder dat faksievoorkeure die proses belemmer. Na die Zuma-termyn skuld die ANC dit vir elke belastingbetaler, elke kind wat saans honger moet gaan slaap, elke Suid-Afrikaner wat krepeer omdat die geld wat nodig is om die land se wiele te olie gesteel is.

As ANC-president is dit verstaanbaar dat Ramaphosa die komende verkiesing vrees en ‘n skeuring in sy party ten alle koste wil vermy. Die prys van ‘n skeuring in die land is egter veel groter.

Wie gaan jy hier dien, mnr. Ramaphosa? Die goeie mense van Suid-Afrika, of jou ANC-rampokkerbende?

2 Comments

  • Adolf says:

    Die ANC sal sorg dat Jacob Zuma weer wegkom met sy speletjies, hy kry dit telkens reg omdat die regering te bang is om teen hom op te tree

  • Johanda Huggett says:

    Zuma sal net soos in die verlede sy Stalingrad tegnieke gebruik om uit die tronk te bly! En die ANC laat dit toe!

Leave a Reply

error: Content is protected !!