TERéSA COETZEE
‘n Mens hoef nie ‘n fietsryer óf fietsrygeesdriftige te wees om meegevoer te raak deur die Tour de France fietsrykampioenskap wat op die oomblik in Frankryk plaasvind nie, want daagliks vind soveel aksie en drama in dié ren plaas dat jy nie anders kan as om dit met afwagting te volg nie. Dis amper soos ‘n aksiefliek met bloed, spanning, kameraderie, liefde en teleurstelling.
Die grootste padren in die wêreld het vanjaar op Saterdag 26 Junie in die Franse dorpie Brest afgeskop en hoewel die ren elke jaar op ‘n ander plek begin, eindig dit altyd in Parys, met fietsryers wat al langs die ikoniese Champs-Elysees na die eindstreep toe jaag. Vanjaar vind die ren bykans net in Frankryk plaas, hoewel hulle ‘n vinnige draaitjie in Andorra, ‘n klein landjie in die Suidwestelike Europa, geleë in die oostelike Pireneë en omgrens deur Spanje en Frankryk, maak.
Die ren eindig op 18 Julie na 21 skofte en die ryers ry in total byna 3 500 km – met net twee rusdae tussenin.
Die skofte word onderskei tussen 8 plat skofte, 5 heuwelagtige skofte, 6 bergagtige skofte en twee individuele tydren-skofte.
Vanjaar was daar altesaam 184 fietsryers wat by die wegspring aangemeld het – 23 spanne van lande regoor die wêreld. Die ren word daagliks in meer as 180 lande uitgesaai en derduisende aanhangers volg die gebeure.
Die afgelope paar dae betrap ek myself ook dat ek saans vasgenael sit voor DSTV (kanaal 206) om na die dag se TDF-hoogtepunte te kyk. Buiten om na die fikse mans met die mooi geskeerde bene in hul spandex-broeke te loer, verkyk ek my aan die beelskone Franse landskappe wat ingekleur word deur eeue oue kastele en kerke en geboue. Soms ry die peletons deur pragtige klein dorpies, en soms is dit kilometers en kilometers se platteland waar grasgroen grasvelde soos ‘n laslapkombers oor die aarde vou.
Reeds met die eerste skof was daar al drama toe ‘n vroulike toeskouer se banier ‘n magdom fietsryers laat val het. Dit was behoorlik chaos soos die ryers een na die ander neergeploeg het en agterna is die vrou in hegtenis geneem vir haar nalatigheid. Tydens die vierde skof het die ryers tien minute na die wegspring botstil gestop om protes te lewer teen die veiligheidsrisiko’s van die ren omdat daar nog tydens elke skof sover ernstige ongelukke was.
Intussen is daar elke dag groot spanning en afwagting oor wie die volgende dag die onderskeie truie gaan dra – die groen trui word deur die beste naelryer van die vorige skof gedra, terwyl die rooi en wit kolle die koning van die bergpieke identifiseer. Die algehele wenner van die skof dra die volgende dag die geel trui, en dis natuurlik die grootste eer wat enige fietsryer ooit kan toekom.
Verlede jaar het die jongeling Tadej Pogacar sommer so uit die niet vorendag gekom toe hy sy heel eerste Tour de France gery en as algehele wenner met die louere weggestap het. Hy is natuurlik vanjaar terug om sy titel te kom verdedig, maar Primoz Roglic wat baie na aan Pogacar geëindig het moet beslis ook nie onderskat word nie. Chris Froome is ook weer terug sedert hy in 2019 ernstig beseer is in ‘n ongeluk, maar hy was een van die ryers wat in die eerste skof geval en seergekry het.
Min mense weet dat die Tour de France toevallig uit die finansiële nood van die Franse koerant L’Auto begin het. Nes koerante deesdae, het dié koerant ook destyds gesukkel om kop bo water te hou en die joernaliste is gevra om aan maniere te dink om die sirkulasie te verbeter. Die 26-jarige sportskrywer Géo Lefèvre se voorstel was om die grootste fietsrybyeenkoms te organiseer wat tot nog toe in die land gehou is.
Die eerste Tour de France is in 1903 gehou en dit was onmiddellik ‘n groot sukses. Binne die eerste jaar het die koerant se sirkulasie byna verdriedubbel van 25 000 tot 65 000, genoeg om hul grootste mededinger, Le Vélo, in die stof te laat byt.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die toer tydelik gestaak en ná die oorlog het die koerant L’Equipe die toer oorgeneem.
Min mense besef wat dit verg om die nege ryers in ‘n Tour de France-span op die pad te hou:
55 fietse (ses per ryer)
34 mense in die ondersteuningspan (werktuigkundiges, bestuurders, dokter, masseerders en dieëtkundige)
80 spaarwiele, 82 kassette, 57 kettings (‘n Mens sien dikwels hoe die ryers binne sekondes tydens die ren sommer
fietse ruil, of selfs vinnig ‘n ander skoen aantrek.)