Skip to main content

Ten spyte van sy vonnisoplegging sal Jacob Zuma sy presidensiële byvoordele behou, sê ‘n grondwetkenner.
Oudpresident Jacob Zuma sal geen van sy aftreevoordele, wat ‘n aansienlike pensioen, mediese fonds en sekuriteit insluit, verloor nie, alhoewel die konstitusionele hof hom aan minagting van die hof skuldig bevind en tot gevangenisstraf van 15 maande gevonnis het.
“Die grondwet maak slegs voorsiening vir die verwydering van voordele as die president aangekla word,” het prof. Pierre de Vos (foto), ‘n grondwetkenner, gesê. Artikel 89 van die grondwet bepaal dat enigiemand wat uit die amp van president verwyder is na die proses van beskuldiging, geen voordele van die amp mag ontvang nie.
Die EFF-leier, Julius Malema, verwelkom die uitspraak van die konstitusionele hof. Malema bestempel die uitspraak as ‘n oorwinning vir demokrasie.
Zuma se tronkstraf sal nie verhinder dat die Zondo-kommissie ‘n bevinding oor hom maak tydens die ondersoek na staatskaping nie.
Die hooggeregshof in Pretoria het die kommissie nog drie maande gegee om sy werk te voltooi. Volgens ‘n bevel van regter Selby Baqwa is die finale datum 30 September 2021.
Sondag is die laaste dag waarop Zuma hom moet aanmeld om sy vonnis te begin.

One Comment

Leave a Reply