Skip to main content

ISAAC CLOETE

Die Valke het onlangs ‘n private dorpie ongevraag en met mening binnegeval.

So voel die inwoners van die private Afrikanerdorpie Eureka buite Garies in Namakwaland.  Dit nadat die Valke met gewere en al onverwags hier kom toeslaan het.

Blykbaar het van die manslede van die Valke private besittings soos vroue-onderklere voor kinders en vroue omgedolwe op soek na bewyse.

Volgens Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke, het hulle op vyf huise hier toegeslaan. Hulle beweer dat daar moontlik bedrog, diefstal en geldwassery was in twee beleggingskemas van twee maatskappye. Die was ‘n behuisings- en aandeleskema.

“Daar word beweer dat beleggers in die behuisingsskema ongeveer R12 miljoen en in die aandeleskema ongeveer R80milj verloor het,” volgens Mnisi.

Die Valke het op rekenaars, dokumentasie, hardeskywe, en geheuestokkies van die maatskappye beslag gelê.

Volgens Deon Harmse, ‘n inwoner hier, was daar ongeveer 52 lede van die Valke en polisie in die gebied. By sy huis was vyf voertuie.

Adriaan Nieuwoudt (op die foto saam met Paul Swartbooi, die Namakoning), eienaar van Eureka Bpk, het gesê dat die Valke die bal ver misslaan. Volgens hom het niemand aandele in die maatskappy NFC gekoop nie.

“Dit was aandele wat NFC wettig in Eureka besit het. Ek het dit teen 10 sent elk aan die lede verkoop. Hulle het dit dan weer teen hul eie prys onder mekaar verkoop en het goeie geld gemaak.”

Hy het voorts gesê dat ‘n voormalige dorpsbestuurder, wat ook die boukontrakteur en hardeware-eienaar, op Eureka was, die skurk in die verhaal is.

“Ons was genoodsaak om hom in November 2019 af te dank na onreëlmatighede ontdek is. Daarna het hy homself as vyand van Eureka verklaar en klagtes teen myself, die maatskappy en al die amptenare van Eureka gaan lê.”

“So, die geveg met my en Eureka is nie sodanig omdat hy kwaad is nie. Dis weens die bedrog wat hy gepleeg het en nou moet keer dat hy vervolg word.”

Ten slotte het Nieuwoudt driftig gevra:

“Is hierdie buitengewone optrede  van die Valke ‘n aanval op die blanke ras terwyl die verwoesting van die land deur ander groepe gelate aanvaar word?”

Dié voormalige dorpsbestuurder (aan Die Waarheid bekend) het verkies om anoniem te bly omdat die Valke nog die sake ondersoek. Volgens hom gaan die waarheid tog uitkom, want die Valke het ‘n goeie saak.

Volgens Rufus Beukes, munisipale bestuurder van die Kamiesberg munisipaliteit, verwelkom hulle die Valke se ondersoek. Hy het gesê: “Daar word blykbaar ‘n onwettige aandeleskema bedryf volgens gerugte wat al lank die rondte doen.”

* Dit het intussen aan die lig gekom  dat die direksie van Eureka hul regsverteenwoordiger opdrag gegee het om klagtes teen die voormalige dorpsbestuurder te lê.

One Comment

  • Naomi says:

    Eureka moet die polisie dagbaar. Geen persoon sal my onderklere omkrap nie… die flippen goed is pervers…

Leave a Reply