ISAAC CLOETE
‘n Hof het onlangs ‘n duidelike ultimatum aan ‘n vermeende motorswendelaar gemaak: dat hy al die geld aan sy kliënt moet terugbetaal. Dit verwys na al die geld waaruit hy ‘n man bedrieg het in sy Face Book-advertensies waar voertuie te koop aangebied was.
Die swendelaar van Nababeep, Michel Rual van Wyk (20), het op Loeriesfontein in die hof verskyn op aanklagtes van voertuigbedrog. Hy het op ‘n klagte van diefstal skuldig gepleit, volgens kapt Sergio Kock, polisiewoordvoeder.
Hy was gevonnis tot twee jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar. Die hof het hom ook gelas om die verliese van ongeveer R70 000 aan die klaer, ‘n bekende sakeman, terug te betaal.
Die sakeman het gesê: “Die publiek moet nie sulke FaceBook-transaksies aangaan nie. Ek doen geestelike werk en wil nie vergelding hê nie. Ek het baie geld verloor en my besigheid ly nou daar onder.”
Volgens die sakeman het Van Wyk se pa hom verseker dat hy sal toesien dat sy seun maandelikse betalings aan hom maak.
Intussen het die polisie versoek dat ander ontevrede kliënte ook klagtes teen Van Wyk lê. Omdat Van Wyk reeds skuldig gepleit het hoef hierdie kliënte volgens die polisie nie noodwendig in die hof te gaan getuig nie. Maar dit is die enigste en maklikste manier om hulle geld terug te kry.
Van Wyk het FaceBook gebruik om hom as ‘n verkoopspersoon te bemark. Hy het glo toe vir Lollo’s Auto op Springbok gewerk.
Soms het hy foto’s geplaas van hoe hulle (hy en sy pa, ‘n voormalige raadslid) kastig voertuie aan kliënte oorhandig volgens mense wat hy ingedoen het.
Volgens vele inwoners in die Namakwa-area het hy geld van hulle gevat as ‘n deposito. Soms moes hulle petrolgeld aan hom inbetaal sodat hy die voertuie na hulle kon bring. Hierna was hy grafstil oor die “verkoopte” voertuie. Of nêrens te kry nie.
Vroeër het Clarissa Karstens aan Die Waarheid gesê dat sy en haar seun ook deur Van Wyk ingeloop was. Sy het oor sy vonnis gesê: “Ons gaan maar nie sake maak nie. Ek dink hy het nou lekker goed geskrik.”
Van Wyk is steeds in aanhouding vir ander soortgelyke sake in die Calvinia-area.
*Intussen is ‘n ander motorswendelaar, Marius Smit (27), op 76 aanklagte van bedrog skuldig bevind en drie jaar tronk toe gestuur in Bloemfontein. Hy het motors wat nie syne was nie, op FaceBook verkoop deur vals profiele te skep.
Enigiets wat die WAARHEID bevat is goed om te lees, doen so voort.