Die avonture van Kuifie is een van die gewildste strokiesverhale wat in die twintigste eeu verskyn en is vandag steeds populêr. Die boeke word in ongeveer 60 tale vertaal en drie van die boeke is nou, danksy Protea, weer in Afrikaans beskikbaar.
Die hoofkarakter van die verhale is die jong Belgiese verslaggewer Kuifie. Hy beleef verskeie avonture saam met sy hond, Spokie.
In Die farao se sigare onderneem Kuifie en Spokie ’n bootreis na die Ooste. Tydens die vaart ontmoet hulle die Egiptoloog Filemoon Sikloon. Hy nooi hulle na Kaïro om saam met hom na die graf van die farao Kih-Oskh te gaan soek.
Al die vorige geleerdes wat hierdie missie aangepak het, het geheimsinnig verdwyn.
Wanneer Kuifie ’n sigaar met die farao se teken op die etiket vind, wonder hy of die sleutel tot die raaisel dalk daarin opgesluit lê.
In Kuifie en die Pikaro’s word Bianca Castafiore en haar gevolg tydens haar toer deur Suid-Amerika in hegtenis geneem.
Sy word daarvan aangekla dat sy die regering van generaal Tapioca omver wil werp. Luidens berigte is Kuifie, kaptein Sardijn en professor Sonneblom ook deel van die sameswering.
Tapioca nooi hulle na Tapiocapolis om hulle kant van die saak te stel. Daar gekom, besef hulle dit is ’n set, maar generaal Alcazar en sy manskappe, die Pikaro’s, kom tot hulle redding, en Kuifie-hulle raak betrokke by Alcazar se rewolusie teen Tapioca.
In Die Blou Lotus word Kuifie na Sjanghai ontbied, maar die boodskapper word vergiftig voor Kuifie uitvind hoekom.
Daar gekom, besef hy sy stryd teen die internasionale dwelmbende, met wie ons in Die farao se sigare kennis gemaak het, is nog lank nie verby nie. Gelukkig ontmoet hy die jong Chinees Tjang en saam trotseer hulle baie gevare. Groot is Kuifie se verbasing toe hy agterkom dat die baas van die dwelmbende iemand is wat hy ken…
Die avonture van Kuifie is baie gewild onder lesers van alle ouderdomme. Dit is ’n bekende reeks wat geen bekendstelling nodig het nie. Al drie hierdie boeke sal kinders en volwassenes saam op Kuifie se avonture neem.