Skip to main content

Jacob Zuma is g’n vreemdeling vir omstredenheid en die binnekant van ‘n hof nie. Oor die jare moes hy homself dikwels in die beskuldigdebank verdedig.

In 1963 is hy saam met ‘n groep van 45 Umkhonto we Sizwe-rekrute naby Zeerust in die ou Wes-Transvaal in hegtenis geneem. Hy is skuldig bevind aan sameswering om die regering omver te werp en tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis, wat hy op Robbeneiland uitgedien het.

In Oktober 2001 is die destydse ANC-hoofsweep Tony Yengeni in hegtenis geneem en op R10 000 borgtog vrygelaat gedurende ‘n ondersoek deur die nasionale direkteur van openbare vervolging, Bulelani Ngcuka, na aanleiding van bewerings van magsmisbruik deur Yengeni en Zuma.

Die verkryging van luukse voertuie deur dertig amptenare en die onbehoorlike beïnvloeding in Suid-Afrika se omstrede wapentransaksie is as verwante sake genoem. Yengeni is skuldig bevind, maar die saak teen Zuma is laat vaar. Ngcuka het gestel dat daar prima facie bewyse van korrupsie teen Zuma is, maar nie genoeg om ‘n saak in die hof te wen nie.

In 2004 het Zuma ‘n sleutelfiguur in die Schabir Shaik-verhoor geword. Schabir Shaik, Zuma se finansiële adviseur, is ondervra oor die wapentransaksie met Thales, ‘n waterfrontontwikkeling in Durban en uitgawes op Zuma se woning in Nkandla. Op 2 Junie 2005 is Shaik skuldig bevind en gevonnis tot 15 jaar tronkstraf. Die regter, Hillary Squires, het die verhouding tussen Zuma en Shaik as algemeen korrup beskryf.

Kort daarna het die Nasionale Vervolgingsowerheid aangekondig dat Zuma op twee klagte van korrupsie aangekla sou word. Regter Herbert Msimang het die korrupsieverhoor egter van die rol geskrap oor die staat se hopelose hantering van die saak. Daarna het die Nasionale Vervolgingsgesag weer vir Zuma aangekla.

Regter Chris Nicholson het op 12 September 2008 die saak teen Zuma in die Pietermaritzburgse hooggeregshof ongeldig verklaar. Die uitspraak het niks met Zuma se skuld of onskuld te doen nie, maar met tegniese punte.

In Desember 2005 is Zuma van verkragting aangekla. Die beweerde slagoffer was die dogter van ‘n ontslape vriend van Zuma. Die hof het beslis at die betrokke seksuele daad toestemmend was.

Nadat Zuma president geword het, is sy privaatwoning, Nkandla, ten duurste opgeknap.  Die Openbare Beskermer het bevind Zuma en sy familie het onbehoorlik by die opknappings gebaat en van die geld moet terugbetaal word.

Die polisie se spesiale ondersoekeenheid en ‘n parlementêre ad hoc-komitee het probeer om Zuma vry te stel van terugbetaling, maar opposisiepartye het Konstitusionele Hof toe gegaan met die saak, waar bevind is die Openbare Beskermer se uitspraak is bindend en dat die Nasionale Tesourie moes bereken hoeveel hy moes terugbetaal.

In 2018 het die direkteur van openbare vervolgings bekendgemaak dat Zuma op 18 aanklagtes van korrupsie, wat meer as 700 klagtes van bedrog en geldwassery insluit, tereg sou staan.

Na ‘n streep dreigemente van geweldpleging en politieke ingryping deur hooggeplaasde ondersteuners, het regter Nicholson die saak tersyde gestel weens kommer oor politieke inmenging.

Op 3 Februarie 2020 is ‘n lasbrief vir Zuma se inhegtenisneming uitgereik op korrupsie-aanklagtes.

Op 22 Januarie, 2020 het die hooggeregshof beslis Zuma en die Franse wapenmaatskappy Thales kan krimineel verhoor word op aanklagtes wat met beweerde onwettige wapenhandel verband hou.

Leave a Reply

error: Content is protected !!