Skip to main content

Oudpresident Jacob Zuma sal waarskynlik teen Kersfees lankal uit die tronk wees, maar vandag se uitspraak in die Konstitusionele Hof beteken baie meer as net dat die hoogste juridiese gesag in die land sy voet neergesit het teen ‘n glyjakkals wat nou al lankal die regstelsel sy speelbal maak.

Zuma is die oudpresident van die land en het steeds geweldige politieke steun. As hy die regbank kan minag en skotvry daarvan kan afkom, kan dit die gesag van elke hof in die land geweldige skade berokken.

Met Zuma self, sowel as ‘n handvol ander voormalige ANC-hooggeplaasdes wat binnekort op korrupsie-aanklagte verhoor sal word, is dit van uiterste belang vir die stabiliteit in die land dat die howe se gesag nie uitgedaag word nie.

Suid-Afrika is steeds ‘n grondwetlike demokrasie en niemand behoort bo die reg verhewe te wees nie. Vandag se uitspraak gee baie van die meer siniese mense onder ons weer ‘n tikkie hoop.

Mag ons binne die volgende week vir Gevangene Zuma voor die tronkhekke sien. Die reg moet nie net geskied nie, maar die burgers van hierdie land moet dit sien gebeur.

Leave a Reply

error: Content is protected !!