Umkhonto we Sizwe-veterane het Nkandla, die omstrede blyplek van die voormalige Suid-Afrikaanse leier, oudpresident Jacob Zuma, beleer om te verhoed dat hy in hegtenis geneem word.
Zuma is enkele ure gelede deur die Grondwetlike Hof skuldig bevind aan minagting en tot 15 maande tronkstraf gevonnis. Die klagte van minagting spruit uit sy weiering om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te verskyn.
Regter Sisi Khampepe, wat die meerderheidsuitspraak geskryf het, was deeglik. Sy het niks uitgelaat nie en alle aspekte van die saak aangespreek. Die regters Leona Theron en Chris Jaftha het in ‘n minderheidsuitspraak verskil, maar hulle was dit eens dat Zuma skuldig is aan minagting.
Regter Khampepe het genoem dat die meerderheidsuitspraak onbetwisbaar is en dat Zuma nie kan appéleer nie. Dit beteken dat Zuma 15 maande tronk toe moet gaan.
Oudpresident Jacob Zuma het herhaaldelik gesê hy is nie bang om tronk toe te gaan nie.
Die hof het verklaar dat die gesag van die reg selfs vir ‘n voormalige president geld.
Die Britse koerant Express berig die volgende: “Mnr. Jacob Gedleyihlekisa Zuma word gevonnis tot 15 maande gevangenisstraf,” het ‘n regter van die konstitusionele hof gesê en die hofbevel voorgelees.
Zuma moet binne vyf dae voor die polisie verskyn, het die regter bygevoeg.
‘n Woordvoerder van Zuma het aan eNCA televisie gesê dat die voormalige president later ‘n verklaring sal uitreik.
Hy het egter nie verder verduidelik nie.
Die aantygings teen Zuma sluit in dat hy toegelaat het dat sakelui na aan hom, waaronder die broers Atul, Ajay en Rajesh Gupta, staatsbronne plunder en die beleid beïnvloed.
Die Guptas, wat ook die dade ontken, het Suid-Afrika verlaat nadat Zuma verdryf is in ‘n stap wat deur bondgenote van sy opvolger, president Cyril Ramaphosa, georkestreer is.