Skip to main content

Dit was behoorlik ‘n marathon-geleentheid waarmee twee van die grootste dig- en skryfkompetisies in die land die afgelope naweek in die Maslow in Pretoria afgesluit is.

Dit was heeltemal gepas, want beide die Diggroep vir Beginners en Begaafdes se digkompetisie en Skryf Jou Storie se prosakompetisie was marathonstryde wat elkeen oor tien rondes beslis is.

Byna 600 digters en skrywers het sake oor ‘n tydperk van byna drie maande uitgespook, en toe die tien finaliste in elke afdeling Vrydagmiddag in Pretoria bymekaargekom het, kon die strydbyle begrawe word en skrywerstaaltjies oor ‘n paar drankies gedeel word.

Die groep het mekaar Vrydagaand beter leer ken en Saterdag in die Jakarandastad deurbring, maar die hoogtepunt was die gala-uithanggeleentheid Saterdagaand, waar die wenners aangewys is.

Uiteindelik het Riki Malan die prosakompetisie gewen, terwyl Stephan Uys in die digkompetisie met die louere weggestap het. Die eerste prys in elke kompetisie was ‘n asemrowende R50 000.

Rosalee Meyer was tweede in die digkompetisie, met Floris van Zyl wat die derde plek ingeneem het. In die skryfkompetisie was Uys tweede, met Sybie Kleynhans in die derde plek.

Die bekende sanger Kevin Leo het die vroue laat swymel gedurende ‘n paar operameesterstukke in Italiaans, maar dit was veral sy weergawes van Elvis Presley en Gé Korsten se treffers wat die meer as 80 gaste – versprei oor twee lokale weens Covid-regulasies – aan sy voete gehad het.

Deon Meiring was dalk vir party van die gaste ‘n onbekende naam voor sy vertoning op die gala-aand, maar die passie waarmee hy die besonder diep lirieke van sy liedjies gesing het, het verseker dat hulle hom sal onthou.

Twee van die kompetisie-beoordelaars, Riku Lätti en Churchill Naudé, het nie vir die twee sterre teruggestaan nie en die gehoor vergas met ‘n kletsrym-vertoning wat die monde laat oophang het.

Die kos het die gaste sonder woorde gelaat – wat ‘n besondere prestasie is as jy die deelnemers se vaardighede met die woordkuns in gedagte hou.

Die gasvrou, Ronelle Kleynhans, modeboek-stylvol geklee in ‘n wynrooi aandrok van fluweel, het die geleentheid agterna as hul heel beste dig- en skryfkompetisie-gala nog beskryf. Sy en die gasheer, Louis Liebenberg, het oor die afgelope jare reeds meer as ‘n halfdosyn sulke spoggeleenthede aangebied.

Dit was egter nog nie die laaste nie. Liebenberg het tydens die geleentheid laat val dat hy Augustus reeds met ‘n splinternuwe kompetisie wil wegspring. Voornemende deelnemers kan Diggroep vir Beginners en Begaafdes en Skryf jou Storie se FaceBook-blaaie sowel as Die Waarheid dophou.

One Comment

Leave a Reply