Mense van oral het gister ingeskakel om die lewendige uitsending van Michael Richard Schutte (jnr), die seun van die legendariese swaargewig-bokskampioen Mike Schutte, op Facebook by te woon. Michael is Dinsdag 22 Junie op die ouderdom van 34 jaar in die Helen Joseph hospitaal in Johannesburg dood en hy het sy vrou, Elizabeth, en hul twee kinders, Seth (8) en Michaela (3), agtergelaat. Hy het ook ‘n dogter Amelia (10) uit ‘n vorige verhouding.
Die begrafnisdiens het by die Entheos Family Church in Rooihuiskraal, Centurion plaasgevind en getalle was beperk tot 50 weens Covid-19 regulasies. Pastoor Peter Pugh het ‘n roerende boodskap gelewer en vertel dat Michael vir sy vrou en kinders gelewe het. Húlle was die rede waarom hy elke dag opgewonde was om op te staan en te leef.
Volgens Schutte se suster Dalene Schutte-Louw het Michael in April twee baie groot beroertes gehad en die afgelope paar maande het hy gesukkel om volkome daarvan te herstel. Maandagoggend (21 Junie) het Michael wakker geword, sy kop vasgegryp en geskree dit voel of sy kop gaan bars. Net daarna het hy sametrekkings begin kry wat gelyk het soos ‘n epileptiese aanval. Michael is na die Helen Joseph-hospitaal geneem waar hy aan ‘n ventilator en hart-long-masjien gekoppel was, maar die dokters het bevind hy het ‘n anneurisme in sy brein gehad en hy is Dinsdagoggend dood verklaar.
Hoewel Schutte (jnr) nie ‘n hegte verhouding met sy pa gehad het nie, het hy tog sy pa se bokstalent geërf. Hy was in 2016 die Suid-Afrikaanse skopboks-kampioen en het sy lewe lank uitgeblink in Oosterse gevegskuns.
“My boetie sou ‘n goeie bokser ook gewees het, maar ek dink hy het skopboks gekies juis omdat dit selfs nóg ‘n groter uitdaging as boks is. Skopboks verg dat jy elke spier in jou liggaam gebruik en Michael was sy lewe lank iemand wat homself altyd nog so bietjie harder gedruk het.
“Hy was ‘n baie sagte mens en altyd positief, al het hy self ook baie uitdagings in die lewe gehad,” sê Schutte-Louw.
Volgens Schutte-Louw het haar broer sy lewe lank ‘n baie moeilike stryd teen dwelmverslawing gestry. Hy het verlede jaar as gevolg van Covid sy besigheid in Hartbeespoort verloor en Desember weer ‘n terugsinking met dwelms gehad.
“My boetie was ‘n baie dapper en moedige mens. Hy het moeilike kinderjare gehad en sy ma het hom basies alleen grootgemaak – hy het nie regtig ‘n goeie verhouding met ons pa Mike gehad nie en ongelukkig het hy op ‘n jong ouderdom met die verkeerde mense deurmekaar geraak en dwelms begin gebruik.
“Dit was danksy Pastoor Peter Pugh by die Redemption Christian Healing Centre dat Michael weer sy lewe teruggekry het en hy het self baie nou by die sentrum betrokke geraak en ander mense help red van verslawing,” sê Schutte-Louw.
Boodskappe het op Facebook ingestroom van mense wat vertel het dat Michael hulle gehelp het om van dwelmverslawing te genees. Michael en sy vrou Elizabeth het albei in die bediening gewerk en was albei pastore.
Pastoor Dwayne van Rensburg het in sy huldeblyk aan Michael Schutte gesê mense gaan hom nie onthou as die seun van die bekende bokser nie, maar ‘n man in eie reg omdat hy op sy manier net so ‘n groot rol soos sy pa gespeel het. Hy het mense se lewe help red en verander.
Saterdagaand het Michael se naaste familie en vriende by Redemption Hill bymekaargekom en ‘n massiewe vuur gemaak ter nagedagtenis aan hom.
“Michael het altyd gesê hy wil eendag ‘n “Viking Funeral” hê, en ons het sy laaste wens op die manier geër. ‘n Professionele boogskutter het ‘n vuurpyl deur die lug geskiet om die vuur te begin en ons het sy naam met klippe om die vuur uitgepak,” sê Schutte-Louw. “Ek weet my boetie sou geglimlag het as hy daar kon wees.”