Skip to main content

ISAAC CLOETE

Daar was heelwat hofdrama terwyl ‘n mammie vergeefs gewag het dat sy na meer as twee jaar gevonnis moes word.

Sy is Chirelda Lombard (toe 32) van Hondeklipbaai wat tydens haar vorige verskyning erken het dat sy aandadig was aan haar pasgebore baba (later Gabrielle gedoop) se onnatuurlike dood.

In die pleitverklaring op 19 April te Springbok het sy ook erken dat sy haar baba op ‘n vullishoop in Hondeklipbaai gaan “dump” het.

Maandag sou sy in die Springbok-streekshof gevonnis word. Weens twee uitstaande verslae kon dit toe nie gedoen word nie.

Die verslae, wat ‘n korrektiewe verslag insluit, moes aangevra word deur die proefbeampte. Die hof was briesend oor die uitstaande verslae en het die verantwoordelike klerk lelik hieroor in die hof geroskam. Die saak het dus oorgestaan tot Dinsdag.

Terwyl die skraal Chirelda Maandag gewag het vir haar saak moes sy in ‘n ander hofsaal wag. Hier het sy kop onderstebo gesit en snik. Sy was baie emosioneel, bewerig en het haar vingers heel tyd teen mekaar gevryf. Sy was slegs gekleë in ‘n wit bloes en blou jeans. Later het haar ouers vir haar ‘n swart jas en swart mussie gegee om die koue te probeer verdryf.

Voor die aanvang van die hofverrigtinge Maandag het sy deur middel van haar  regsverteenwoordiger, Annamarie Theys, versoek dat die media nie die verrigtinge moes bywoon nie en derhalwe van die hof verskoon moes word.

Die landdros het die aansoek met minagting van die hand gewys. Sy het aangevoer dat media-dekking in belang van die gemeenskap is en met die verrigtinge voortgegaan.

Die opspraakwekkende saak spruit uit ‘n voorval wat op 4 September 2018, op die Namakwalandse weskus dorpie, Hondeklipbaai, gebeur het. Haar vyf dae oue baba was op 4 September in ‘n plastieksak op ‘n vullisterrein deur twee plaaslike inwoners op dié vissersdorpie gevind.

Sy het aanvanklik ontken dat sy ooit swanger was. Toe DNS-toetse dit bevestig het, het sy geswig en erken dat dit haar baba is.

Maandag was ‘n ouerige man, Loftus Badenhorst, vermoedelik haar (stief)pa, baie dreigend teenoor ‘n verslaggewer en het versoek dat daar geen foto’s  geneem mag word nie.

Badenhorst het verder probeer om die verslaggewer  se aandag van die saak af te hou deur hom gereeld in die hofsaal stip aan te gluur … maar sonder sukses.

Volgens inwoners van Hondeklipbaai is Loftus Badenhorst ‘n “bleddie moeilike” mens.

Chirelda se ma, Rina Badenhorst, het vertel dat sy hoop haar dogter kry slegs korrektiewe straf.

Lombard was aanvanklik aangekla van moord. Sy sal nou op 10 Augustus gevonnis word vir die verberging/verswyging van ‘n geboorte en strafbare manslag.

Leave a Reply