ISAAC CLOETE
Dit lyk asof die donkerste uur vir ‘n voormalige Noord-Kaapse munisipale bestuurder en die provinsiale leier van die EFF aangebreek het.
So praat en voel inwoners op Springbok nadat Nevie Aubrey Baartman (62) Maandag in die landdroshof hier verskyn het.
Die voormalige DA-lid en munisipale bestuurder van die Nama Khoi munisipaliteit (NKM) op Springbok word daarvan beskuldig dat hy glo betrokke was by ‘n twyfelagtige tender van byna R80 miljoen.
Volgens Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke, staar hy en die Cloete-egpaar, Zihaadt “Hangkas” en sy vrou, Maralise Lunnette, klagtes van bedrog van R79.9 miljoen in die gesig.
Laagenoemde was die alleen-direkteur van ‘n maatskappy. Hulle maatskappy as ‘n regsentiteit word dus ook aangekla van bedrog.
Terwyl Baartman gedurende 2013 munisipale bestuuder was, het die twee glo ‘n konstruksiemaatskappy, MPG Construction, gestig. Hierna het die NKM ‘n tender vir ‘n plavei- en randsteen-projek op Springbok geadverteer wat Baartman aan dié maatskappy laat toeken het.
Luidens dokumentasie het die maatskappy nie aan die vasgestelde kriteria voldoen nie. Behalwe dit, was die korrekte verkrygingsproses glo ook doelbewus verontagsaam.
Mnisi het gesê: “Op 2 Junie het die Valke ‘n dagvaarding aan die drie beteken. Dit het hulle verplig om in die hof te verskyn. Hulle behoort op 3 September weer te verskyn.”
Volgens Zihaadt het hulle net op ‘n dag ‘n hofdatum gekry. Hy het gesê: “Ons weet nie wat in die verklarings van AfriForum en die DA staan nie. Sarel Stone en Annemarie Beukes weet meer as wat ons nou weet.”
Zihaadt vertel egter dat hy baie op sy gemak is oor die hofsaak, wat waarskynlik weer op 20 September op Springbok voortgaan.
Stone het teruggekap en gesê dat daar nog verskeie sake gaan volg wat AfriForum aanhangig gemaak het. Hierdie een is nou die eerste wat hof toe gaan.
Volgens kapt Paulus Swartbooi van die Namas loop die tentakels van korrupsie veel dieper as wat ons dink.
“Politici in hoë posisies sink mekaar se loopbane. Alles ten koste van ons gemeenskappe wat daaronder ly. Ek bepleit dus ‘n bedrogvrye munisipaliteit wat na die behoeftes van die gemeenskappe omsien.”
Baie inwoners voel dat daar nou ‘n slag ‘n voorbeeld van die “skelms” gemaak moet word. Ongeag wie dit is.
Baartman is tans die leier van die EFF in die Noord-Kaap.