Skip to main content

CHANTÉ DANIEL

Om jou eerste motor te koop, is een van die heel grootste hoogtepunte in ‘n jong mens se lewe. Die proses is egter ‘n doolhof van onsekerheid as jy nie met kennis bewapen is nie.

Volgens ‘n handelaar waarmee Die Waarheid gepraat het, is daar ‘n paar nuttige dinge om te weet voordat jy ‘n handelaar besoek.
“Om jou eerste motor te koop, is waarskynlik soos jou eerste liefde. Maak nie saak watter motor jy daarna koop nie, die eerste een bly spesiaal. Latere motors mag wel duurder wees, maar die eerste hou altyd die meeste sentimentele waarde in,” sê Farhad Raheman, nuwe voertuigverkoopkonsultant by Suzuki Boksburg.
Kom ons begin met die basiese beginsels. Na die eenmalige kostes soos jou deposito, motorregistrasie en padwaardigheidsertifikaat, is daar ook die maandelikse terugbetalings en versekering. As ons oor getalle praat, is dit belangrik om by jou begroting te hou. Net omdat ‘n motor iets is vir die oog, beteken dit nie dat dit die ekstra geld werd is nie. Om jou eerste motor te koop, moet altyd ‘n praktiese, bekostigbare besluit wees.
Moenie jou hart op net een handelsmerk rig nie. Gooi jou net wyer en doen jou huiswerk. As jy ‘n tweedehandse motor koop, vra vir besonderhede oor sy geskiedenis, soos die onderhoudsplan en of die motor al in enige ongelukke betrokke was.
Met ‘n idee van hoeveel jy kan bekostig, kan jy nou begin soek na ‘n motor wat jou en jou sak pas. Onthou om praktiese vrae in hierdie proses vir jouself te vra:

• Is die motor brandstofdoeltreffend?

• Gebruik ek die motor vir werksdoeleindes?

• Wat is die beste opsie vir my: nuut of gebruik?

• Wil ek kinders hê, en sal ek later meer sitplekke benodig?

• Is ‘n groot laaibak of klein laaibak nodig?

• Sal ‘n outomatiese ratkas die beste vir my wees?

• Is veldry-vermoëns die beste vir my lewenstyl?

• Het die motor ‘n diens- of instandhoudingsplan?

• Ry ek hoofsaaklik in die stad of reis ek lang afstande?

• Wil ek gemaklik passasiers kan vervoer?

Sodra jou finansiering goedgekeur is, moet jy vinnig optree om versekering in plek te kry. Kry vooraf soveel kwotasies as wat jy kan, en weet waarvoor jy betaal. Jy kan dit nie sonder die basiese motorversekering van die winkelvloer af ry nie.

Met die hulp van ‘n goeie handelaar kan al hierdie dinge vir jou baie maklik gemaak word. Onthou net, jy soek iets veilig en betroubaar wat jou nie net van A tot B kan vat nie, maar sommer deur die hele alfabet.

Leave a Reply