DIRK LOTRIET en CHANTÉ DANIEL
Mense sterf op strepe in Gauteng tydens die derde Covid-19-golf – grootliks omdat daar nie genoeg hospitaalbeddens is om hulle te behandel nie. Tog het die Gautengse department van Gesondheid ‘n volledige hospitaal wat al 26 jaar in die veld staan en vrot en eenvoudig geïgnoreer word.
Die Kemptonpark-hospitaal in Birchleigh, Kemptonpark, is in 1996 skielik gesluit. Die regering het geen amptelike rede vir die sluiting gegee nie, maar daar is destyds algemeen gefluister dat die nuwe ANC-regering nie ‘n staatshospitaal in ‘n wit buurt wou hê nie.
“Dit was van die begin af net oor politiek,” het ‘n oud-werknemer van die hospitaal aan Die Waarheid gesê.
Daar is bespiegel dat die regering nie wou hê pasiente van Tembisa moet ver reis vir die hospitaal se sorg terwyl die bevoordeeldes van Apartheid die spogfasiliteit op hulle drumpel het nie.
Die hospitaal, wat in 1978 geopen is, is destyds as een van die heel beste mediese fasiliteite in die land beskou. Met sy sluiting was die hospitaal ‘n totaal onafhanklike winsgewende luukse staatshospitaal – iets wat vandag ondenkbaar is.
Dosyne dokters en spesialiste het hulle spreekkamers in die huise rondom die hospitaal oopgemaak om maklike toegang tot die hoogs gevorderde teaters te hê.
Veral die kraamafdeling was besonder hoog geag. ‘n Ma, wie se dogter in 1989 daar gebore is, sê dit was ‘n uitstekende fasiliteit.
My eie seun is in 1994 daar gebore. Ons moes destyds kies tussen die Kempton Hospitaal en die Glynnwood (‘n privaathospitaal in Benoni), en Kempton was ons keuse vir die bevalling.
Nou staan die hospitaal met bloedbevlekte vloere, graffiti en peperduur beligting, ultrasoniese apparate en CAT-skanderingstoerusting wat jare se verval wys.
Deesdae is die hospitaal ‘n paradys vir sogenaamde spookjagters. Ondernemende toerleiers reël selfs spookjaggeleenthede.
‘n Voormalige werknemer sê daar was nooit gerugte oor spoke terwyl die hospitaal operasioneel was nie.
“Daardie stories het maar eers later kop uitgesteek,” sê sy.
Waaroor daar egter geen twyfel behoort te wees nie, is dat die hospitaal tydens die huidige hospitaalbedtekort by die ANC behoort te spook.
Verlede jaar het die Chinese ‘n 1 000-bed-hospitaal in Wuhan binne net ses dae gebou. In 2020 het die regering ons ekonomie maande lank tot stilstand laat knars – kwansuis om die gesondheidsbedryf tyd te gee om voor te berei op die pandemie.
Daar was dus tyd om hierdie hospitaal te herbou. Daar was ook R500 miljard beskikbaar, waarvan net ‘n snarsie nodig sou wees om die Kempton Hospitaal gereed te kry. Niks het gebeur nie.
Die einde van die pandemie is nog nie in sig nie, en dit kan die moeite werd wees om die hospitaal reg te ruk. Ons het die geld daarvoor – ons moet dit net uit ANC-leiers se sakke haal.