Skip to main content

Drie en sestig persent van die mense tussen die ouderdom van 15 en 24 jaar is werkloos, maar Maite Nkoana-Mashabane, jeugminister, bly in haar pos.

Thandi Modise, speaker van die nasionale vergadering, en die voorsitter van die Raad van Provinsies, Amos Masondo, het verlede week in ‘n gesamentlike Jeugdag-verklaring gesê: “Ons is almal dit verskuldig aan die 1976 jong bevryders om te verseker dat ons die Suid-Afrika van ons drome bou, vry van die pandemie en sosiale kwale.”

Justice Malala, ‘n joernalis, het dié vraag gevra: Wie sal hierdie “Suid-Afrika van ons drome” bou? Hy het ons nasionale uitvoerende gesag bestudeer en tot die gevolgtrekking gekom dat ons keeldiep in die moeilikheid is.

Die jeugportefeulje val onder Maite Nkoana-Mashabane, die minister wat vir ons gesê het dat sy ‘n gat in haar kop het. Hierdie minister het ‘n reuse taak: ‘n verbysterende 63% van die mense tussen die ouderdom van 15 en 24 jaar is werkloos. Die jeug beslaan 59,5% van die werklose mense in SA. Nêrens anders in die wêreld word sulke statistieke as enigiets anders behalwe ‘n ramptoestand beskou nie. Met Nkoana-Mashabane in die amp, waar sy min of geen aanspreeklikheid aanvaar nie, gaan niks verbeter nie. Sy was reeds ‘n mislukking toe sy minister van buitelandse sake was. Nou sit sy haar tradisie voort in haar nuwe portefeulje.

Mens sou kon dink dat die regering vanweë die ernstige toestand van jeugwerkloosheid, meer tyd en fokus sou spandeer aan die ontwikkeling van kleinsakeondernemings onder jong mense. Instede daarvan het president Cyril Ramaphosa die minister vir kleinsake-ontwikkeling by sy kantoor ingetrek en die gevolg is dat ‘n belangrike portefeulje sonder leier en roerloos agtergelaat is.

Die kabinet-kas is vól opdrifsels. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se ernstige agteruitgang is duidelik te sien. Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, lyk of sy nie in staat is om die vele krisisse van ‘n weermag wat ‘n nasionale grap geword het, op te los nie.

Die ministerie van omgewing, bosbou en visserye het ‘n moeilike taak en Maggie Sotyu bring nie veel tafel toe nie. Sy was die ANC-voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee vir veiligheid en sekuriteit wat die vernietiging van die Skerpioene in 2008 gelei het en is beloon met verskillende posisies in voormalige president Jacob Zuma se regering.

Vroeg in Junie is die veteraanaktrise Shaleen Surtie-Richards in Kaapstad ter ruste gelê. Sy kon nie vir haar mediese sorg betaal nie.

Die ministerie van kuns en kultuur was nie daar om vir haar en ander kunstenaars te veg terwyl sy gelewe het nie, maar die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, Wes-Kaapse LUR vir kultuursake en sport, Anroux Marais, asook die ANC-Wes-Kaapse sekretaris, Faiez Jacobs, was onder die BBPs op haar begrafnis.

Zweli Mkhize is steeds minister van gesondheid. Hoekom word hy nog nie voor ‘n hof gedaag nie?

Lindiwe Sisulu is minister van menslike nedersettings, water en sanitasie. Ons mense woon steeds in hutte, hospitale het geen water nie en skole het geen sanitasie nie. Sy is uiters onsuksesvol in haar pos maar sy wil president word.

Bheki Cele word die minister van polisie genoem, maar hy lyk desperaat om weer die kommissaris van die polisie te wees. Intussen vier misdaad hoogty terwyl hy politieke speletjies speel.

Dit sal lekker wees om die intelligensiedienste op te ruim na al die skandale wat onder die Zuma-regering ontketen is. Moenie verwag dat dit onder Ayanda Dlodlo en Zizi Kodwa sal gebeur nie – albei is onder die loep vir aktiwiteite gedurende die Zuma-era en is te sleg om die duiwels aan te pak wat die land al jare blind steel.

Handel en nywerheid word bestuur deur Ebrahim Patel. Die land wag nogsteeds om te verstaan ​​hoe hierdie minister verlede April so prontuit kon wees om kleinhandelaars te verhinder om warm voorbereide kos te verkoop, maar tog so traag is om die werklike handel en nywerheid in die land aan die gang te kry. Verlede jaar se verbod op die verkoop van ooptoonskoene is steeds een van sy grootste prestasies.

En intussen hardloop Lindiwe Zulu soos ‘n koplose hoender rond oor maatskaplike ontwikkeling, terwyl Nkosazana Dlamini-Zuma niks sê en doen terwyl groot beleggers vlug as gevolg van munisipaliteite wat in duie stort nie.

Ons het ‘n kabinetskommeling dringend nodig!

Leave a Reply