SONJA BROWN
Ramaphosa se instruksies aan ANC-lede: ‘Kom ons bemark ons dorpe aan beleggers’.
Probeer die man ‘n nar wees? Hy sal dalk daarin slaag om ‘n glimlag of twee te ontlok, want sy woorde is lagwekkend.
Met woorde soos “Ons mense wil sien dat ons bekwame mense (EKSKUUS?) gaan ontplooi wat kan demonstreer dat hulle die werk kan doen. Dat hulle nie net ‘n kameraad is wat slagspreuke ken en toyi-toyi nie. Dit is deel van wat ons ondergang was,” het president Cyril Ramaphosa Maandag gesê.
Ten minste erken hy dat die ANC ten gronde is en dat onnodige optogte en politieke retoriek daartoe bygedra het.
Ramaphosa wil hê ANC-partylede moet aandring op belegging in plaaslike regerings in aanloop tot vanjaar se munisipale verkiesing.
“Ons moet ons dorpe en plaaslike regeringsgebiede bemark aan voornemende beleggers om werk te skep. Ons moet voorstanders van beleggings word,” het hy gesê.
Ramaphosa het Maandag ‘n virtuele toespraak gelewer aan die ANC se Norman Mashabane-streekskonferensie toe hy gepraat het oor die belangrikheid daarvan om plaaslike ekonomieë te laat herleef om sinvolle plaaslike werk te skep.
Die sleutel om beleggers na plaaslike munisipaliteite te lok, is om geloofwaardige leiers en raadslidskandidate te kies, het hy gesê. (Sê my, meneer die president, wie van die huidige langvingerbende gaan bly en wie gaan gly?)
“Ek wil hê dat ons, terwyl ons vir hierdie plaaslike regeringsverkiesing voorberei, mense kies wat bekwaam is – die tipe burgemeesters of leiers by die plaaslike regering wat na Gauteng of Kaapstad kan gaan en met nuwe beleggers kan praat en kan sê “Kom belê”, het hy gesê.
(Ek lag nie nou eers meer agter my hand nie. Ek lag nou openlik oor hierdie woorde, meneer die president, want jy weet dat hulle almal dagdrome is…)