Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die afgelope ses jaar meer as 9,5 miljoen rondes ammunisie en 4 357 vuurwapens verloor.
Pieter Groenewald, die leier van die Vryheidsfront, het in ‘n verklaring gesê: “Die polisiediens blyk die grootste verskaffer van onwettige ammunisie en vuurwapens te wees.”
Die Minister van Polisie, Bheki Cele, het in antwoord op ‘n vraag van Groenewald in die parlement gesê oor ‘n tydperk van 12 jaar is daar meer as 26 000 vuurwapens gesteel, verloor of waarvan geen rekenskap gegee kan word nie.
Volgens die minister was die grootste hoeveelheid ammunisie wat in een jaar vermis geraak het, in die Oos-Kaap, waar 3,2 miljoen rondtes ammunisie in 2016/2017 verdwyn het. In Noordwes het 2,2 miljoen ammunisierondes gedurende die boekjaar 2014/2015 verdwyn. Verlede jaar het die Noordwes-provinsie byna ‘n halfmiljoen rondes ammunisie verloor.
Hierdie syfers sluit nie eers die vermiste vuurwapens en ammunisie in wat nie deur die SANDF of Metropolisie verklaar kan word nie.
Groenewald het gesê die remediërende aksies en maatreëls wat Cele in sy reaksie verskaf het, standaardprosedures is en dat die beleid nie behoorlik toegepas word nie.
Hy het gevra waarom die publiek ontwapen moet word omdat hulle blameer word vir misdade wat met gesteelde vuurwapens gepleeg word.
“Dalk moet die minister se departement veel eerder die skuld kry hiervoor.”