Skip to main content

TERESA COETZEE

Stap mens deesdae in apteke en gesondheidswinkels in, kreun die rakke van aanvullings met die belofte om jou immuniteit en weerstand ‘n hupstoot te gee en mens weet omtrent nie waar om te vat en te los nie. Almal wil hulself teen die Covid-19-pandemie beskerm en as jy dit met ‘n pilletjie, stropie of druppeltjie kan doen, waarom dan nou nie? Die skok wat jou by die betaalpunt inwag, ten spyt. 

Tog meen kundiges soos die bekende Dr. Eric Berg dat min gesondheidsprodukte jou immuniteit werklik verbeter en die beste manier om jou liggaam teen kieme en siektes te beskerm, bly maar ‘n gesonde, gebalanseerde dieët. Régte kos is ‘n baie beter alternatief vir vitamienaanvullings, waarvan baie in elk geval deur jou liggaam uitgeskei word.  Die enigste uitsondering is vitamien C, sink, selenium en vitamien D wat wel aangevul behoort te word in tye soos dié. 

As kos soos atlete was, sou daar ‘n hele klomp kossoorte gewees het wat keer op keer op die podium beland, want sommige voedselsoorte het net eenvoudig die regte voedingswaarde om jou liggaam teen siektes te beskerm.

Hier volg ‘n paar kossoorte wat jy maar altyd in jou koskas kan hou: 

 

Broccoli

Broccoli is ‘n bekende wapen teen kanker, veral long-, maag-, kolon- en rektumkanker, maar jou hele immuunsisteem kry ‘n hupstoot deur hierdie groente te eet. Broccoli bied boonop hoë voedingswaarde terwyl die kilojoules daarin betreklik min is.  

Broccoli is ‘n groot bron van yster en bevat ook vitamiene C en vitamiene E. Een koppie broccoli lewer tien maal die hoeveelheid chroom as dié wat groenboontjies en lemoene lewer.

(Kinders hou gewoonlik daarvan om die klein “boompies” te eet en broccoli kan maklik verdoesel word in geregte soos quiches. Moenie dit te lank kook nie.)

Appels

Appels is propvol antioksidante en vitamiene. Een appel gee jou ‘n kwart van die hoeveelheid vitamiene C wat jy daagliks nodig het en bevat ook ‘n vorm van oplosbare vesel genaamd pektien wat help om jou bloed- cholesterolvlakke te verlaag en jou verteringstelsel gesond hou. Studies wys dat volwassenes wat twee appels ‘n dag eet, se cholesterolvlakke met 10 % daal. (Pektien is ook ‘n kragtige ontgifmiddel.) ‘n Appel is ook ‘n koolhidraat met ‘n lae glukemiese indeks (GI), wat beteken dat dit stadig verteer word en geleidelik deur die bloedstroom as glukose geabsorbeer word. Dit hou bloedsuikervlakke reëlmatig. Appels is goeie dieëtkos en ryk aan minerale soos kalsium en magnesium en het viruswerende eienskappe. Appels is die gesondste as dit met die skil aan geëet word omdat meeste van die vesel en antioksidante in die skil is.

Eiers

Eiers is ‘n superkos omdat dit jou algemene gesondheid verbeter en die kans op vetsug verminder. Voedingskundiges meen mens behoort daagliks ‘n eier te eet.  

Dis laag in kalorieë, en een van die beste bronne van proteïen, yster en ander minerale, vitamiene A, B2, B3, B12, foliensuur en vitamien D. Dit bevat ook selenium en cholien. Die proteïen wat in eiers voorkom, is selfs meer as dié in vleis en vis. 

Eiers bevat min kalorieë – een groot eier het omtrent 75 kalorieë. Die meeste proteïene kom in die wit voor, wat geen vet of cholesterol bevat nie. 

Die kleur van die eierdop dui geensins op die kwaliteit, voedingswaarde, smaak of ander karaktereienskappe van die eier nie. Kyk uit vir Omega 3-eiers – die hoenders wat dié eiers gelê het, is met kos gevoer wat ryk is aan Omega 3 en daarom is hul eiers ryk aan dié noodsaaklike vetsuur. 

Wortels

Die oumense het nie verniet gesê wortels laat jou beter sien nie – dis inderdaad belangrik vir oogfunksie en ook goeie dieëtkos omdat dit veselryk is en cholesterolvlakke help verlaag. ‘n Middelgrootte wortelbevat genoeg beta-karoteen om aan ‘n volwassene se daaglikse behoefte aan vitamine A te voldoen. Beta-karoteen is die plantpigment wat wortels hul orange kleur gee en word in die liggaam omgeskakel na vitamien A. Wortels bevat ook vitamiene C en E en minerale soos kalium en magnesium. 

(As jou gesin nie mal is oor wortels nie, rasper dit in maalvleisgeregte soos bolognaise.)

Bessies 

Bessievrugte, veral aarbeie is baie ryk aan vitamien C en ook ‘n goeie bron van vitamine A en kalsium. Dit bevat ook yster, foliensuur en kalium en bestry hoë bloeddruk en bevorder bloedsomloop. Agt aarbeie bevat meer vitamien C as ‘n mediumgrootte lemoen. Swartaalbessies bevat meer vitamine C as enige ander vrug. 

Sade

Sade soos sonneblom, hennep, pampoen, sesam, vlas en saffloer bevat ‘n hoë konsentraat vitamiene en minerale. Dis ‘n ryk bron van omega 6 olies en pampoensade is ook ‘n ryk bron van omega 3. Dit bevat boonop groot hoeveelhede sink, magnesium en kalsium. Sesamsaad is besonder ryk aan proteïen, minerale soos kalsium, essensiële vetsure en vitamien E terwyl sonneblomsade weer baie ryk is aan vitamiene E, B en minerale. 

Piesangs

Al ooit gewonder hoekom atlete altyd voor, tydens of ná ‘n resies piesangs eet? Piesangs verskaf energie en met net twee piesangs kan jy sowat negentig minute straf oefen (mits jy fiks is natuurlik.) Piesangs is ‘n goeie bron van die B-vitamiene en vitamiene A en C, sowel as kalium, fosfor, sink, yster en kalsium. Dit word aanbeveel vir hardlywigheid én diarree, verminder sekere allergie-simptome en verhoog heilsame ingewandsbakterieë. Dit bevat ook yster en stimuleer die produksie van hemoglobien in die bloed en help só met bloedarmoede. 

Kruie wat immuniteit opstoot

Baie kruisoorte help om die liggaam se weerstand teen siekte te verhoog. Hier is ‘n paar:

Sint Janskruid is ‘n algemene tonikum vir die immuunsisteem, met antibakteriële eienskappe. 

Katteklou (Uncaria tomentosa) is ‘n viruswerende middel en bevat sekere alkaloïede wat immuniteit verhoog.

Echinacea word wyd gebruik as ‘n algemene viruswerende en antibiotiese middel. Dit verhoog jou witbloedseltelling. 

Knoffel beval Allisien, wat viruswerende, antibakteriële swamwerende en anti-oksiderende eienskappe het. 

Gemmer verhoog jou weerstand teen infeksie. 

Bronnelys: Eet Gesond deur Dr. David Peters (Tafelberg). 

Eet jou gesond deur Dr. John Briffa

Dr. Berg, The Knowledge Doc se Potgooi reeks (Anchor.fm/drberg)

Leave a Reply