Skip to main content

CHANTÉ DANIEL

In hierdie nuwe era waar sosiale media alles oorheers is mense nog meer selfbewus van hoe hulle lyk. Sosiale media laat almal dink dat ander se lewens, tesame met hul voorkoms, perfek is. 

Natuurlik maak dit mense onseker, maar baie van ons weet nie wanneer ons voorkoms en gebreke ‘n obsessie word nie.

Liggaamsdismorfiese versteuring (BDD), is ‘n geestesgesondheidsversteuring met die obsessiewe idee dat een of ander aspek van ‘n mens se liggaamsdeel of voorkoms ernstig gebrekkig is en daarom neem die persoon buitengewone maatreëls om dit weg te steek. In meeste gevalle is hierdie gebreke blote verbeelding, maar as die fout werklik bestaan, is die belangrikheid daarvan oordrewe. 

Hoe dit ook al sy, gedagtes daaroor is deurdringend en indringend, en kan ure van ‘n persoon se dag in beslag neem, wat ernstige benoudheid veroorsaak en dit moeilik maak vir iemand om te funksioneer soos ‘n normale mens.

Die oorsaak van liggaamsdismorfiese afwyking is nie bekend nie. Soos baie ander geestesgesondheidstoestande, kan liggaamsdismorfiese versteuring die gevolg wees van baie dinge, soos ‘n familiegeskiedenis van die versteuring, abnormaliteite in die brein en negatiewe evaluasies of ervarings oor jou liggaam of selfbeeld. Mans en vroue word ewe veel geraak deur hierdie afwyking. Dit begin gewoonlik in jou tienerjare. Kenners dink dat ongeveer een uit elke 100 mense BDD het.

Met hierdie afwyking kan jy behep raak met enige deel van jou liggaam. Die mees algemene areas is die gesig, hare, vel, bors en maag. Sommige van die simptome is: 

  • Kyk gedurig in die spieël vir jouself 
  • Vermy spieëls 
  • Probeer om die betrokke liggaamsdeel weg te steek 
  • Gereeld oefen of oorversorging 
  • Vergelyking met ander 
  • Glo nie as mense sê hulle lyk goed nie 
  • Vermy sosiale aktiwiteite 
  • Besorg, depressief en skaam gevoel 
  • Dink aan selfmoord 

Behandeling vir BDD kan praatterapie of medisyne insluit. Die beste behandeling is gewoonlik ‘n kombinasie van die twee. Kognitiewe gedragsterapie (CBT) is die doeltreffendste praatterapie. 

Met hierdie vorm van terapie werk jy saam met ‘n geestesgesondheidswerker om negatiewe gedagtes en denkpatrone te vervang met positiewe gedagtes. Selektiewe antidepressante vir heropname-beperking van serotonien werk gewoonlik die beste. 

Die beste voorkoming vir BDD is om dit vroeg agter te kom. BDD is geneig om met ouderdom erger te word. Praat met jou dokter as jy ‘n kind of tiener het wat oormatig bekommerd lyk oor sy of haar voorkoms en voortdurend gerus gestel moet word. As jy self simptome van BDD wys, moet jy ook met jou dokter of ‘n sielkundige praat. 

Almal sukkel met hul selfbeeld, hetsy BBD of nie. Daarom is dit belangrik om mekaar met liefde en vriendelikheid te behandel.

Leave a Reply

error: Content is protected !!