Die gevolge van die Covid-19-pandemie het baie markte kreupel gelaat, maar in Afrika is daar ‘n paar ligpunte, sê CM Trading. Die grendelstatus en afstand-werk het die ekonomiese landskap verander en besighede en hul kliënte uitgedaag om hierby aan te pas. ‘n Gebied wat baie verandering beleef het is die geldmark, en lande dwarsoor Afrika beweeg in die rigting van ‘n kontantlose kontinent.
Namate mobiele penetrasie toeneem en digitale betaalmetodes toegankliker word, het dit ‘n geskarrel veroorsaak vir beheer oor die mobiele geldmark en die bedryf wat dit ondersteun.
Miljarde word in fintech gestort.
In Afrika het fintech-finansiering, samesmeltings en aankope van maatskappye in 2020 tot $ 1,35 miljard gegroei, volgens ‘n verslag van BFA Global’s Catalyst Fund en Briter Bridges, wat in Mei 2021 gepubliseer is.
In die verslag, wat 177 ondernemings en 33 beleggers op die vasteland ondervra het, is bevind dat die grootste deel van die belegging na Nigerië, Kenia en SA vloei. Dit het gelei tot die toename in maatskappye wat hoop om voordeel te trek uit die groeiende neiging tot digitale betalings en e-handel.
Yoco, OPay en PalmPay is van die Afrika-maatskappye wat groot beleggings in die kontinent se fintech-industrie gelok het. Oor die algemeen het Afrika ‘n toename in mobiele geldoplossings beleef.
Alhoewel die kripto-koning, bitcoin, die afgelope maand in prys gedaal het, moet daar kennis geneem word dat die kripto-geldeenheid gestyg het van ‘n laagtepunt van $9 400 in Mei 2020 tot ‘n rekordhoogtepunt van $64 000 in April.
Baie aandag is op die kripto-markte gevestig, want alt-munte soos etereum en rippel (kripto-geldeenhede wat in ‘blockchain’-tegnologie gebruik word) het in waarde toegeneem. Selfs dogecoin, wat as ‘n meme begin het, het ‘n volwaardige kripto-geldeenheid geword.
Opkomende kripto-geldeenhede trek die aandag van Afrika-beleggers, ongeag die inherente wisselvalligheid van die mark, aangesien die winspotensiaal enorm is.
Die Afrika-bankbedryf ondergaan ‘n ingrypende transformasie, aangespoor deur toenemende toegang en vraag na digitale dienste.
Innovasies in digitale betaalmetodes dryf Afrika-verbruikers in die rigting van gedesentraliseerde finansiering, wat baie bankinstellings bekommerd maak.
Die Africa CEO Forum het berig dat 70% van Afrika se finansiële instellings gerapporteer het dat hulle na digitalisering van hul ondernemings moes verskuif weens die pandemie. Nigerië het ‘n toename van 500% in aanlynbetalings in 2019 gesien, berig die Nigeriese interbankverrekeningskema.
Waarom is mobiele geldrekeninge belangrik? Volgens ‘n McKinsey-studie het ongeveer twee miljard mense en 200 miljoen ondernemings nie toegang tot formele spaarplanne en krediet nie. Vir beleggers is dit ‘n gebied om na te kyk, veral omdat bitcoin genormaliseer word vir betalings in Afrika-lande soos Nigerië.