Skip to main content

Bykans vyf jaar nadat ‘n 49-jarige sanger van Pretoria, Carel Sebastiaan, sy eerste konsert in die Atterburry-teater aangebied het, het hy uiteindelik sy debuut-enkelsnit vrygestel.

Die wag was beslis die moeite werd, want Kol op die maan is ‘n storievertel-liedjie wat tussen verskillende genres rondbeweeg.

Die nou 53-jarige sanger se nuwe liedjie, wat hy toevallig ook self neergepen het, was ‘n groot verrassing, want Callie erken ruiterlik dat hy nie té veel van musiek af weet nie.

“Toe ek so agt jaar oud was, het ek self probeer om die kitaar te bemeester – dit was daardie jare nogal moeilik, want daar was nie iets soos ‘n YouTube of Ultimate Guitar om jou te help nie. Dus, wat ek vandag weet, het ek myself geleer. My musieklewe was maar so op-en-af, met geen noemenswaardige hoogte- of selfs laagtepunte so tussen werk en familie deur nie.”

“Ek sukkel soms om by die hoër note uit te kom,” lag hy. “Ek oefen dalk nie my stem genoeg nie, maar sing genoeg om dit net lekker geolie te hou. Ek sal soms so tweeuur in die oggende wakker word, my kitaar gryp en sing tot die son opkom.” Callie het eers op 45 regtig begin sing, en glo hy moet liedjies kies wat by sy stem pas.

Kol op die maan is ‘n lekker luisterliedjie en vertel ‘n storie. “My pa, wat sowat ‘n jaar  na my Atterburry-teater optrede oorlede is, het my aangmoedig om my eie liedjies te skryf. Hy het beweer dat daar soveel Afrikaanse musiek is en dat dit tyd is om weer iets ordentliks te doen.”

Kol op die maan was een van die liedjies wat uit sy eie pyn en verdriet oor sy pa se dood gebore is.

“Die liedjie sinspeel op die soeke na liefde en aanvaarding, en as ons liefde in ons harte het, moet ons dit mos deel, of hoe?”  Kol op die maan vertel ‘n fantasiestorie oor ‘n oupa en kleinseun wat op die metaforiese boot, Die Swan, klim en na ‘n eiland waar daar net liefde is, gaan.

Callie sê hy is nie die oupa nie, want “ek het op 32 eers pa geword”. Daarom is die oupa nie regtig op iemand gegrond nie. Die boodskap is gerig op almal; en die boodskap is om liefde te deel.”

“Ons almal kan nie altyd gelukkig wees nie, maar ons kan probeer om meer verdraagsaam teenoor mekaar te wees.”

Kol op die maan is kolskoot vir die nuwe grendeltyd-musiekbeweging en ons hoop dat daar nog meer sulke tipe fantasieliedjies uit Callie se pen gaan verskyn.

 

Leave a Reply