Skip to main content

Deel twee van ons reeks oor die Legendes van Afrikaanse Musiek deur SONJA BROWN

Ralph Rabie het een keer aan ’n joernalis gesê: “Ek speel Johannes Kerkorrel. Hy is net ’n karakter. Ek speel hom op die verhoog en ek is gek daarna.”

Johannes Kerkorrel (JK), gebore as Ralph John Rabie op 27 Maart 1960, was ‘n baie skaam man wat diep spore in menseharte getrap het met sy lirieke, asook sy meesterlike vertolking van Johannes Kerkorrel. Daarvoor sou ek hom ‘n Oscar gegee het.

Hy hét inderdaad sy droom verwesenlik voordat hy hierdie onaardse aarde vaarwel geroep het.  As boorling van klein dorpies in deesdae se Mpumalanga, en later in die Vrystaat, was musiek maak altyd sy groot droom. Hoe dan anders as ikone soos Elvis of Jim Reeves jou begeester het? Nadat hy leer orrel speel het, leer hy homself gedurende vroeë hoërskooljare in Sasolburg om lirieke neer te pen, en dan om kitaar te speel. Die Kragbron-seun was inderdaad vir groot dinge in die musiekbedryf bestem, en sy skoolmaats had geen idee hoe ver hy nog sou kom in die toekoms nie.

In 1980 trou Ralph Rabie met Anne Grobler, ‘n medestudent by Potch Universiteit.

Nadat hy ‘n graad in Industriële sielkunde sowel as een in Joernalistiek behaal het, verhuis hy in 1981 na Kaapstad. Gedurende hierdie tydperk gee Anne geboorte aan hul seun Reuben. Ralph meld aan vir die gebruiklike verpligte diensplig en vir die volgende twee jaar word hy ‘n man wat daagliks bruin klere dra en vir ‘volk en vaderland’ voete stamp. Troepie word ‘n soldaat, en soldaat word later ‘n vryburger.

Maar voordat hy die bruin klere vir kantoordrag kon verruil…

Gerhard Scholtz, ‘n dosent aan die Akademie vir Dramakuns, sien op ‘n dag ‘n jong man, – geklee in ‘n weermaguniform -, raak waar hy af en toe op een van die skool se klaviere in dié se oefenlokale speel. Toe Scholtz ‘n sanger benodig, een wat ook kon klavier speel, onthou hy van die man in die weermaguniform, en die volgende keer toe hy die troep sien, vra Scholtz hom of hy bereid sal wees om vir gaste tydens ‘n geleentheid in die Paarl-stadsaal op te tree. Die troep was Ralph Rabie en hierdie einste uitnodiging sou Rabie se lewe drasties verander.

‘Met Ander Woorde’, ‘n kabaret-opvoering wat deur Gerhard Scholtz vervaardig is, het Rabie in die manlike hoofrol tentoongestel. Scholtz se idee was, aangesien die plekkie waar dit opgevoer was baie klein was, dat die kunstenaars ‘n intieme band smee met die gehoor.

Dit is hier waar Rabie se skugter persoonlikheid duidelik te bespeur was. Hy volg die tipiese volstruismetode: speel en sing met toe oë. As hy hulle nie kan sien nie… Sy kop was ook weggedraai, ‘n duidelike teken dat hy nie mense naby hom wou hê nie. Scholtz was nie ingenome met Rabie se ongeneentheid om met mense om hom te konnekteer nie, en het hom na ‘n kleedrepetisie eenkant toe getrek en Rabie gesmeek om te probeer om homself met die gehoor te deel.

Rabie het Scholtz se vrees bevestig deur sy woorde: ‘ek kan nie’. Toegegee, Scholtz se optrede daarna, (waar hy Rabie aan sy kraag beetgekry het, en met ‘n stem vol passie vir Rabie gesê het dat hy, Scholtz, vir Rabie as een van die talentvolste kunstenaars in die land beskou en dat hy eersdaags een van die bekendstes kon word mits hy sy onvermoë om die gehoor deel van sy vertonings te maak oorbrug,) was uit desperaatheid.

Rabie het weer gesê dat hy dit nie kon doen nie.

Scholtz was raadop en hewig ontsteld, maar het gelukkig onthou van ‘n tegniek waarvan baie kunstenaars gebruik maak om hulself as ‘ondeel’ van ‘n vertoning te maak. Die maniere waarop hulle dit doen laat die gehoor nie ooglopend besef wat aan die gang was nie. Een só ‘n metode was die gebruik van maskers, iets wat as ‘n skild tussen die gehoor en kunstenaars gebruik word. Sy voorstel aan Rabie: doen die volgende repetisie met ‘n donkerbril op. Tot almal se skok het dit die gewenste uitwerking gehad! Skaam Rabie was nou vol vertroue, en het die hele tyd gedurende Met Ander Woorde-optredes die gehoor so vermaak. Sy donkerbrille het gedurende later jare plek gemaak vir swembrille.

Ralph se huwelik ly omdat hy op sy musiekloopbaan probeer fokus en saans as verslaggewer werk. Hulle sien mekaar skaars en omdat hy met mense in die musiek-industrie wat dwelms gebruik het uitgehang het, versuur die huwelik, want Anne het nie sy vriende goedgekeur nie. Hulle besluit om eerder paaie te skei.

In 1984 begin Ralph Rabie as subredakteur by Die Burger werk, maar hierdie was nie wat hy werklik voltyds wou doen nie. Dit het wel die pot aan die kook gehou vir eers.

1986. Die begin van wat mense ‘protesteater’ gedoop het. JK se eerste ‘werklike’ optrede voor ‘n groter gehoor vind plaas. Die Green Room in Kaapstad is die poort tot sy satiriese politiese kabaret wat tesame met Lieze Stassen en Elmarie Kitshoff aangebied word. Daar was berig dat hy die Suid-Afrikaanse apartheidsregering uitgedaag het met hierdie satiriese kabaret en die liedjies wat daarin voorkom. Sý generasie word immers gesien as die een wat aan alternatiewe musikante en die Boere-punkbeweging geboorte gegee het.

Gedurende die onstuimige 1980’s beskou die konserwatiewe blankes hierdie ‘Alternatiewe Afrikaanse Beweging’ as ‘n gevaar, juis omdat alle aanbiedinge, hetsy liedjies of verhoogstukke, in Afrikaans was en hul bedoeling opsluit was om Afrikaners van die Nasionale Party-dogma en apartheidsideologie te bevry. Hierdie generasie wou baie graag vry wees van die Calvinistiese opvoeding en gedwonge ‘kerkgaan-generasie’.

In 1986 verhuis JK na Johannesburg en begin werk by die Sondagkoerant Rapport. Weereens ‘n middel tot ‘n doel. Sy hunkering na musiekmaak steeds aan’t prut in sy onderbewussyn.

Na die geslaagde vertoning saam met Lieze en Elmarie, kom hy en ander skrywers in 1987 bymekaar en tower nog ‘n politiese kabaret op. Dit word in die Black Sun in Berea opgevoer.

Die toneelstuk heet ‘Piekniek by Dingaan’, die ‘eerste ten volle Afrikaanse kabaret in Hillbrow’. Lirieke hiervoor kom uit die penne van André Letoit, beter bekend as Koos Kombuis, en JK. Hierdie briljante opvoering het die ‘Pick of the Fringe Award’ op die Grahamstad-fees gewen het.

Toe dit in die Nico Malan teater opgevoer was, wou Kruik se bestuur aan hulle spoeg verstik, en het daarop aangedring dat snitte wat verwys na Die Stem, die landsvlag en godsdiens, verwyder moet word. Dit was glo nie onderhandelbaar nie, en die vereiste vir die toelating tot die teater. Die kabaret was verskuif na die Arena-ruimte, ‘n ‘meer eksperimentele’ deel van die teater. JK was nie hiervoor te vinde nie. Die regisseur, Gerrit Schoonhoven, ook nie, en albei het van die produksie onttrek. Johan Esterhuizen, Kruik se dramahoof, is summier ontslaan.

As Kruik maar net geweet het dat hierdie openlike afkeur van sekere dinge polemiek sou verskerp, sou hulle seker twee maal oor sekere besluite gedink het. Die kabaret is na die Baxter teater verskuif waar ‘n ouderdomsbeperking van 18 van toepassing was as gevolg van die kras taalgebruik.

Die eerste keer toe dit in 1988 opgevoer was, was dit gedurende ‘n erg konserwatiewe tyd gedoen, met konserwatiewe mense as kykers, en ‘n konserwatiewe uitsaaikorporasie wat dit moes goed- of afkeur. Musiek wat gewoonlik nie aan laasgenoemde se standaarde voldoen het nie, was nie toegelaat om op radiosnitlyste te verskyn nie. Boonop kon die staatsensor enigiets wat volgens hulle onaanvaarbaar was, verbied. Wie onthou ‘Another Brick in the Wall’ van Pink Floyd, en Spanish Train van Chris de Burgh? Ja, daardie was ook oor die ‘eng, outydse’ staatsensorkam geskeer. Albei was deur ons regering verban: een oor die sterk sosio-politieke boodskap, en een omdat dit vir sommige as godslasterlik voorgekom het. En vandag? Vandag is dit alledaags soos ‘n kopknik of ‘n handdruk.

‘Piekniek by Dingaan’ was as iets uit die duiwel se skoot beskou. Nie net was dit in Afrikaans opgevoer deur jongmense wat die nasie se toekoms moes wees nie, maar die sogenaamde Kinders van Verwoerd het dit wat deur die nuwe generasie as ‘normaal’ beskou was, oop en bloot verwerp. Deesdae sou Piekniek by Dingaan skaars ‘n skouer-ophaal veroorsaak.

Van die redes waarom dit ‘n pandemonium veroorsaak het is dat die toneelstuk juis gespot het met die beperkings wat die Suid Afrikaanse media moes deurgaan. ‘n Nare waarheid. Hierdie toneelstuk het bewys dat koerante op só ‘n manier berig het dat ‘niemand meer seker was wat die werklikheid, leuens, halwe waarhede of halwe leuens, of verdraaide waarhede was nie’.

Wat ‘n vriend het ons in PW

Vlok, en Heunis en Malan

Hul hou ons land vir ons so veilig

En kommuniste is verban…

Hier is ook liedjies soos ‘Wat ‘n vriend het ons in PW’ (gesing op die wysie van ‘What a friend we have in Jesus’) en ‘O, Kapitaal wat woon in Krygkor’ op die wysie van die ‘Onse Vader’ gesing. Dit het natuurlik groot oproer veroorsaak aangesien die PW lied satiries verwys het na die veiligheidsituasie in Suid Afrika. Niemand in hoë kabinetposte was beïndruk nie! (En almal weet dat een groot mediahuis eintlik die Afrikaanse regering se marionet is, of hoe?)

Die rolverdeling in ‘Piekniek by Dingaan’ het die spot gedryf met veral konserwatiewe Afrikaanse kunstenaars soos Sonja Herholdt waar die teks van haar liedjie ‘Waterblommetjies’ verander is na ‘Petrolbommetjies’, is ‘n duidelike verwysing na die onrus wat gedurende daardie tydperk in ons land geheers het.

Natuurlik is niks in hierdie toneelstuk oor die hoof gesien nie. (Die volgende paragraaf is nie vir sensitiewe lesers nie…) Selfs seks is aangespreek. Die liedjie ‘Stadig oor die klippertjies’ het ‘Stadig oor my klitoris’ geword. Bles Bridges se styl is ook vir die toneel gebruik, en ‘Heidi’ se woorde is verander na ‘Heidi, ons naai nie meer in die berge nie’. Randal Wicomb se Rooi Rok het ook deurgeloop, en ‘dans met die rooi rok vanaand’ is verander na ‘maar dis daai tyd van die maand’.

Uit die rolverdeling kon mens aflei dat die min gebiede in ons land waar mense kon meng, ongeag hul ras, godsdiens of seksuele oortuiging, – plekke soos Woodstock en Mayfair – vereer is. Toe JK sy liedjie ‘Hillbrow’ gesing het, is die multikulturele kersie in drukskrif op die skokkende koek geplaas.

En gee, gee, gee. Gee, gee, gee

Jou sente, jou drome, jou toekoms vol gate,

gee jou hart vir Hillbrow,

Ja, gee jou hart vir Hillbrow

Dit was ook gedurende hierdie tydperk dat Ralph Rabie die nimlike, geliefde Johannes Kerkorrel ontplooi het, en in dieselfde jaar (1987) begin JK saam met André Letoit, oftewel Koos Kombuis, werk. Hulle het eers as ‘n duo opgetree, maar nadat die twee tot ‘n groep uitgebrei het, het hulle as Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band (GBB) bekend gestaan. Naas Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis, was Willem Moller, Hanepoot van Tonder en Piet Pers deel van die omstrede groep.

Dié groep is baanbrekers vir openlike kritiek teen rassisme, gedwonge diensplig, patriargie, apartheid se euwels, asook die onkunde onder die blanke middelklas.

Johannes Kerkorrel was natuurlik na dié verhoogstuk sy werk as joernalis by die Rapport kwyt as gevolg van sy politieke sienings. Dit was die hupstoot wat hy nodig gehad het om sy voltydse toetrede tot die musiekwêreld af te skop.

Die GBB se konsert, gehou in The Pool Club in Johannesburg se middestad, en getiteld ‘Die Eerste Alternatiewe Afrikaans Rock Concert’ beklemtoon die bevryding van Afrikaans uit versmorende politieke boeie. Hierdie geskiedkundige gebeurtenis veroorsaak ‘n bevrydende ontploffing in voorheen eng denke, en bevorder ondermyning van politieke onderdrukking onder Afrikaanssprekendes. Daar was groot Afrikaanse ‘name’ teenwoordig by dié optrede, en baie mense glo dat dit die hele Afrikanerdom se uitkyk verander het nádat hierdie konsert plaasgevind het.

‘Eet Kreef!’, ‘n album wat in 1989 deur GBB vrygestel is, word oral onderdruk, en die meeste van die liedjies word gevolglik deur die SAUK verbied. ‘n Stil rebellie begin in JK se kop broei… en die gevolg is die ‘Voëlvry’ GBB kampustoer wat alle hel in die Afrikanerkringe laat losbars.

Ek staan langs die highway met my ou vriend Mike

Ons twee was oppad om Transkei toe te hike

Die son bak neer, dit was baie warm weer

Ons was amper oppad om moed op te gee

Maar skielik in die verte blink ‘n spikkel in die pad

Dit kom vinnig nader, ja die ding het laat spat

Ek kan my oë nie glo nie, my verstand kon dit nie vat

My God, Gert, dis ‘n nuwe soort ossewa!

Kerkorrel, GBB, Koos Kombuis en James Phillips (later bekend as Bernoldus Niemand) het die land aan die praat!

Die Broederbond wat byna alle kampusse beheer het natuurlik ‘n stokkie voor die toere probeer steek. Vryheid van spraak het as die wenner uit hierdie sakie getree nadat die grootste massa-saamtrekke ooit deur studente op die Universiteit van Stellenbosch plaasgevind het. Meer as 4 000 studente het die konsert te Die Drie Gewels bygewoon, glad nie afgeskrik deur kameras in die hande van veiligheidspolisie of oorsese televisie-bemanning wat oral te siene was nie. Selfs die 3Arts-teater in Kaapstad was tot oorlopens toe gevul toe die Voëlvry-konsert 2 dae later daar plaasgevind het. Die finale been van die toer was in Windhoek by Club Oddysey, ‘n kleurling deel van die dorp.

Voëlvry word in 1990 in ons kuis land verban, en GBB se ontbinding wek ‘n enorme hartseer gevoel onder hul aanhangers.

Johannes Kerkorrel verhuis na Europa nadat Eet Kreef pas die lig gesien het. As gevolg van die gebeure rondom sy musiekrebellie woon hy tydelik in ballingskap in Amsterdam. Gedurende dieselfde tyd word sy liedjie ‘Hillbrow’ van die Eet Kreef album ‘n treffer op Belgiese radiostasies. Dit maak natuurlik die Belgiërs nuuskierig oor die onbekende sanger se drukskrif woorde, en na talle onderhoude op verskeie nuusplatforms, leer die wêreld dat nie alle Suid Afrikaners ten gunste van rasseskeiding is nie, al blyk dit op die oog-af so.

Na ‘n uitnodiging na die immere gewilde Dranouter-fees in België kom Johannes Kerkorrel met ‘n skok agter dat die 15 000 toeskouers sy liedjies saam met om kan sing. Sy gewildheid brei daarna uit na die VSA en Engeland, waar berigte oor hom in groot koerant- en tydskrifname verskyn.

Hordes dokumentêre programme regoor die Wêreld oor hom volg en hy keer in 1990 terug na Suid Afrika om ‘Bloudruk’, sy 2de album, op te neem en toer dan ook deur die land. Die ‘Die Blou Aarde Toer’ trek baie aandag, en Tusk Music offer hom ‘n stewige bedrag kontant om sy naam by ander gewildes soos Cora Marie te voeg. Dié vind hy eers uit op ‘n persverklaring, en hy was glad nie ingenome daarmee nie.

Gedurende 1990 ontmoet hy die Nederlandse sanger, Stef Bos, in ‘n kroeg in Antwerpen. Hulle smee byna onmiddelik ‘n jarelange persoonlike en professionele band. In 1993 kom die reeds bekende Bos na Suid Afrika om iets saam met Kerkorrel op te neem. Die enkelsnit ‘Awuwa/Zij wil dansen’ (waarin Tandie Klaasen ook verskyn) sien die lig en word ‘n groot treffer in die België, Nederland en Luxemburg.

Johannes ontwikkel nou ‘n liefde / haat-verhouding met die media.

Halala Afrika; daar is een ding wat Johannes Kerkorrel nooit omtrent die fotosessie vir dié album sou vergeet nie… Hy was van kop tot tone in blou geverf vir die album se foto’s, en omdat die ateljee waar die foto’s geneem was nie ‘n stort gehad het nie, moes hy net so blou geverf huis toe ry.

Ralph Rabie maak weer ‘n openbare verskyning in 1992. Hy tree as Suid Afrikaanse korrespondent vir die Belgiese Radio 1-program ‘Het Einde van de Wêreld’ op. Daar vermaak hy elke Sondag luisteraars op hierdie program deur vrylik kommentaar te lewer oor elke liewe ding omtrent Suid Afrika.

Nog is dit het einde niet ten opsigte van sy openlike openbare teenkanting jeens segregasie. Sy politieke streep kom duidelik na vore toe hy ‘n laaste artikel, ‘n vlymskerp analitiese stuk, vir Die Burger skryf. Daarin vertel hy van die immorele kontraste tussen rykes en armes in die Kaap asook die sterk behoefte aan omgewingsvriendelike behuising.

Later in 1993 word ‘Bloudruk’ in CD-vorm in Europa uitgereik. Kerkorrel se suksesvolle toer deur Vlaamse en Nederlandse somerfeeste met sy Antwerpse groep maak opslae, maar niemand is juis verbaas daaroor nie. Hy verskyn op byna elke televisie-en radioprogram, en vervolgens word twee TV-dokumentêre programme oor hom en sy lewe gemaak.

Sy lewe word nou verdeel tussen Suid Afrika en België.

Hy tree op in konserte met die sanger Wannes Van de Velde in Gent en word aangewys as kulturele ambassadeur vir die ‘Vlaams / Zuidafrikaans Intercultuur Fonds’.

In menigte se oë is hy die klippie in die Dawid-slingervel wat die Goliat-S.A.-regering openlik neergevel het.

Johannes Kerkorrel, die onwillige-gewillige rewolusionêre rebel, kondig in 1994 aan dat hy nie meer voel dat hy oor politiek moet skryf nie aangesien ons land die eerste demokratiese verkiesing agter die rug gehad het. Een van sy mees gekoesterde optredes was tydens die presidensiële inhuldiging van Nelson Mandela waar hy ‘Halala Afrika’ gesing het.

Op 1 Junie 1994 word Kerkorrel se derde album ‘Cyanide in the Beefcake’ vrygestel. Hy toer solo saam met sy orkes deur Suid Afrika.  Hierdie album het Kerkorrel se innerlike gevangene vrygelaat. Daar is duidelike tekens dat hy alle godsdienstige en morele beginsels verwerp het en oortuig is dat die lewe sinloos is. Hy was ook oortuig dat hy op een of ander manier bedreig/dopgehou word, alhoewel daar geen bewyse was dat dit die waarheid was nie. Daar was wel bespiegelinge dat die geheime polisie ‘n ogie oor hom gehou het as gevolg van sy uitgesprokenheid teen die regering. ‘n Morele agteruitgang was van daar af duidelik by hom bespeur.

Hy het ook snaakse dinge aangevang. Hy het byvoorbeeld sy begroting vir ‘n album sonder om ‘n oog te knip oorskry, die platemaatskappy uit die opnames-ateljee laat skop, en selfs tydens die mediabekendstelling van die album van die verhoog afgestap nadat hy ‘n liedjie net halfpad gesing het.

‘Daar is geen’, die eerste enkelsnit van die album River of Love, se video was in die Kalahari opneem. Dit was voor ‘n 5FM-debakel en Tusk het groot geld op die album spandeer. Die aand voordat die konvooi na die Kalahari sou vertrek, daag Kerkorrel met ‘n nuwe minnaar op. Op sy aandrang moes die minnaar ook in die videosessie verskyn. Teen die tyd dat die konvooi die plek bereik het, het Kerkorrel besluit dat die nuwe minnaar sowel die kunsdirekteur as die regisseur van die video moes wees. Toe begin dit sneeu … in die woestyn. Vanselfsprekend is ‘n groot deel van die video in ‘n ateljee in Johannesburg met ‘n blou vertoning afgewerk met voorraadmateriaal wat van oraloor gesteel is.

Daar is nie meer petrol nie

Dit kos dieselfde as wyn

Daar is nie meer digters nie

Die het almal verdwyn

Gaan lees jou graffitti

Kyk dit staan op die muur

Daar is nie meer klere nie

Kyk ons almal staan naak

Daar is geen

Nee niks

Ja niks

Net dit

Een van die snitte op hierdie album, River of Love, was met die hulp van Gary van Riet, in ‘n Engelse dansmengsel omskep sodat dit vir 5FM aanvaarbaar was. Dit het goed gevaar totdat Kerkorrel in ‘n uitgawe van Playboy die radiostasie en die platejoggies afgekraak het. Sy enkelsnit is verwyder, en hy het nooit weer daarin geslaag om ‘n enkelsnit op hulle snitlyse te kry nie.

In 1994 toer hy deur Europa en sluit die “Nekkanacht” toer in die Sportpaleis in Antwerp af waar hy voor ‘n gehoor van nagenoeg 14 000 mense optree.

In 1995 wen hy die FNB Sama prys vir die beste popvertolking, en dit is ook die jaar waarin hy by die “Les Halles de la Villette” in Parys gedurende die “L’Afrique du Sud Festival” opgetree het. Ander Suid Afrikaners wat daar opgetree het is Hugh Masakela, Vusi Mahlasela, Sankomoto, Johnny Clegg en Bayete.

Kerkorrel se vierde album, Ge-Trans-For-Meer, is geskryf terwyl hy in Kaapstad gebly het en dit sluit ook sy eie weergawe van die tradisionele Afrikaanse liedjie “Al lê die berge nog so blou” in. Sy vertoning met dieselfde titel en wat materiaal van sy nuwe album ingesluit het, het stil-stil in Suid Afrika uitverkoop. Dié CD het twee FNB Sama-pryse ingepalm – vir die beste Afrikaanse vertolking en vir die beste manlike sanger.

Sy CD Tien jaar later, ‘n versamelalbum met sy beste liedjies, is vroeg in 1999 uitgereik om Kerkorrel se tien jaar op die verhoog te vier. Die CD Johannes sing Koos du Plessis is ook in 1999 uitgereik, wat weer eens ‘n benoeming vir ‘n FNB Sama-prys ontvang het.

Kerkorrel se laaste cd, ‘Die ander kant’ was in September 2000 uitgereik.

12 November 2002. ‘n Dag wat menige Suid Afrikaners se harte laat ruk het.

‘n Verlate motor op ‘n afgeleë pad naby die dorpie Kleinmond. Sleutel in die aansitter. Bloed op die passasiersitplek en spore daarvan wat die bos inlei … 100m verder die slot van ‘n briljante man toegesluit, die sleutel vir altyd weg…

Hartseer lirieke uit Die Sirkusdier…

Ja en ek het veel talent ontvang

Want ek kan soos ‘n engelkie sing

Maar my vlerke het gesmelt

Toe ek te hoog wou vlieg

En vir my straf moet ek live deur Suid Afrika dans

Leave a Reply