Skip to main content

Vier kinders staan voor ‘n oop deur. Voor die deur is daar ‘n dogtertjie en ‘n seuntjie. Die dogtertjie het sproete op haar gesiggie en die seuntjie het so ‘n windmakerige TinTin-kuifie. Agter staan nog ‘n dogtertjie en seuntjie met ballonne in hul hande.

Hulle is nie net te oulik vir woorde nie, maar het ook stemmetjies wat die hemelse engele sal laat jubel. Enige ouer sal die kleingoed wil opvreet. Boonop kan elke kleinding, wie se ouderdom wissel tussen 9 en 11 ‘n instrument bespeel, van die elektriese kitaar tot by die dromme.

Dit is die 4 Eva Young Band, wat die jongste musiekgroep in die land is.

Die jongklomp se debuutenkelsnit Sunny Day is pas op radiostasies landswyd vrygestel en die reaksies is net positief. Dié liedjie sal enige swaarmoedige persoon se dag ophelder en laat uitsien na dit wat voorlê. Die musiekvideo volg vir kort op die snit se hakke en gaan resoneer met gehore oud en jonk.

“Die vier kinders, wat almal in die Vaaldriehoek bly, is soos boeties en sussies vir mekaar en kom baie goed oor die weg,” sê pa Reinhard Herbst, wat ook onlangs saam met sy vrou Karin die groep RNK gestig het. En natuurlik het Reuben (10) sy ouers se musiektalent geërf, want hy slaan die baskitaar.

Die res van die groep bestaan uit Caitie Rock (11) en Johan van Rooyen Jnr. (11), wat beide die voorsangers van die groep is. Johan speel ook kitaar. Zandri Bezuidenhout (9), is die groep se drommer en dan Reuben, wat die baskitaar speel.

Zandri se pa is die bekende musiekvervaardiger en liedjieskrywer, Drickus Bezuidenhout en dit is ook hy wat Sunny Day geskryf en opgeneem het.

“Johan en Catie het drie jaar gelede aan ‘n sangkompetisie deelgeneem en hulle het beide deurgedring tot die finaal. Hulle wou graag ‘n duet saam opneem en het vir Drickus genader om hulle te help, en dáár het hulle vir Zandri ontmoet.” Vertel Johan se pa. 4 Eva Young Band is in Februarie vanjaar gebore.

Die naam kan eintlik op twee maniere geïnterpreteer word; daar is darem twee Eva’tjies wat die groep aan die gang hou, maar Drickus sê laggend dat Caitie se ma, Theresa, een aand die naam grappend voorgestel het. “Die kinders het besluit dat die naam iets met ‘n vier te doen moes hê en omdat hulle nog so jonk is, was die naam toe heel gepas.”

Sunny Day is ‘n moderne pop-gospel-goedvoelliedjie wat wel ‘n Christelike aanslag het. Maar Reinhard sê dat die groep hulself nie as gospelgroep gaan bemark nie. “Die liedjie moet net ’n positiewe uitwerking op jonk en oud hê,” sê hy “Die kinders is baie lief vir pop- en rockmusiek en wil veral op die jeug fokus.”

Daar word nog groot dinge vir dié vier kinders voorspel, maar hulle ouers gaan hulle kindervoetjies plat-op-die-aarde hou sodat hulle nie dieselfde pad as vele ander kindersterre stap nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!