Skip to main content

TERESA ROODT

Die Covid-19-pandemie het baie dinge kom verander, en die manier hoe ons deesdae onderrig word het ook drasties anders begin lyk as in die ou dae.

‘n Vriendin vertel dat haar kind wat nou ‘n eerstejaarstudent by Tukkies is, nog nie een enkele klas bygewoon het nie en hy is tot dusver nog net aanlyn onderrig. Baie ouers het aan die begin van 2021 die besluit geneem om eerder hul kinders tuis te onderrig as om hulle skool toe te stuur, juis om blootstelling aan die virus te vermy en omdat skole deesdae gereeld toemaak vir sterilisasie. Kinders wat tuisonderrig ontvang is baie sekerder van konstante onderwys as dié in staat- en private skole.

Breinlyn-tuisonderrig is ‘n geregistreerde kurrikulum-verkaffer vir tuisonderrig, maar daar is ook ander opsies soos Optimi Home, Nukleus Onderwys en SA Homeschoolers waarmee jy tuisonderrig kan gee. (Dis egter nie ‘n goedkoop opsie nie en kos dikwels duurder as staatskoolfondse.)

Vir ouers wat nie kundig in wiskunde is nie, is daar die MathU Infinity app vir Apple en Android om kinders te help met wiskunde en wetenskap en alle gr. 10, 11 en 12 leerlinge kan die app aflaai en toegang hê tot die MathU Teaching Emporium se wiskunde – en wetenskap-leerplatform. Die app is só ontwerp dat dit ‘n virtuele leerassistent vir leerders skep.

Die Wolkskool (wolkskool.co.za) is ‘n produk van die Solidariteit skoleondersteuningsentrum (SOS) ‘n nie-winsgewende organisasie met ‘n span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte Afrikaanse onderrig te help verseker. Dis nie ‘n aanlyn skool nie, maar bied bykomende hulp vir leerders. Die koste vir 2021 is R95 per maand per leerder en dis ‘n wonderlike aanvulling vir leerders wat in gewone skole is.

Die Khan Academy bied gratis klasse vir (veral) skoolkinders in vakke soos wiskunde, wetenskap, chemie en geskiedenis. Besoek https://www.khanacademy.org/

Kennis in jou rekenaarbrein

Dis nie net skoliere en studente wat deesdae al meer aanlyn onderrig word nie, daar is byna geen gewone kursus wat jy nie ook aanlyn kan doen nie – van kosmaak-, om musiekinsturmente te leer speel, om sielkundige terapie en berading te kry-, oefening te doen en noem maar op.

Aanlyn kursusse is glad nie ‘n nuwe konsep nie, hoewel dit die afgelope jaar wêreldwyd baie gewilder geword het, nie net vanweë die pandemie en inperking nie, maar ook omdat daar deesdae so ‘n groot verskeidenheid goeie kursusse beskikbaar is. Die voordeel natuurlik ook dat jy kursusse op jou eie tyd kan voltooi vanaf enige plek van jou keuse. Baie aanlyn-kursusse is goedkoop (soms selfs gratis) en op platvorms soos Edx.com is daar sowat 2 000 aanlyn kursusse deur die top-140 universiteite oor die wêreld heen, wat aangebied word. Gaan loer ook by die Oxford Home Study Centre vir goeie akademiese kursusse wat gewig dra. Baie van die kursusse op dié platvorm word gratis aangebied.

Baie van ons plaaslike universiteite soos die Universiteit van Kaapstad het ook ‘n groot aanlyn afdeling waar enigiemand kan inskryf. (Die kursusse hier is egter nogal duur, in vergelyking met ander platvorms soos www.futurelearn.com/courses waar jy ‘n groot verskeidenheid kursusse gratis kan volg oor enigiets, van temas rondom gesondheid, tot besigheid.

Kursusse by www.udemy.com is nie heeltemal gratis nie, maar hulle het elke paar weke groot uitverkopings en dan kan jy baie goeie kursusse vir spotgoedkoop koop. Jy kan jou kursusse “bank” en later eers voltooi. Jy kan al jou gekoopte kursusse later weer herbesoek en daar is meer as 100 000 kursusse om van te kies.

Om ‘n aanlyn-onderwyser te wees

Juis omdat daar so ‘n geweldige groot behoefte wêreldwyd aan aanlyn-klasse en kursusse is, is daar ‘n baie groot tekort aan aanlyn tutors en onderwysers. Engels is veral ‘n baie gewilde vakkeuse en aanlyn-werksgeleenthede is volop in lande soos China, Japan, Thailand en selfs Spanje, Frankryk en Italië. Die voordeel om ‘n aanlyn-onderwyser te wees, is dat jy meestal kan kies hoeveel ure jy per week wil werk en selfs ook watter ure in die dag. Daar is opsies of jy vir kinders en volwassenes wil klasgee, en ook hoeveel leerders op ‘n slag.

Een van die TEFL (Teaching English Foreign Language) kursusse wat hoog aangeskryf word, is die i-to-i TEFL kursus en daar is ‘n paar verskillende kursusse om van te kies. Dié platvorm bied ook baie werksgeleenthede regoor die wêreld aan. (Besoek www.i-to-i.com)

Besoek ook https://www.goatsontheroad.com/tefl-course-online/ om nog goeie plekke te vind wat hoog aangeskrewe TEFL-kursusse aanbied.

Van alles en nog wat

By die webwerf Skillshare kan jy allerhande kreatiewe leefstylklasse aanlyn kry, van fotografie, kunsklasse, hoe om jou eie juwele te maak en daar is wonderlike selfhelpkursusse ook.

Enigiemand kan by Skillshare.com registreer en jy kan self ook geld verdien deur jou eie kursus daar aan te bied. Amateur-kokke kan byvoorbeeld hul eie kosklasse op Skillshare aanbied en hul oomblik van faam beleef.

Selfhelp-kursusse en terapie

Baie professionele sielkundiges, lewensafrigters en terapeute van regoor die wêreld bied deesdae wonderlike kursusse aan om jouself te verbeter en jou psige gesond te hou.

Vir vroue wat ‘n affair gehad het en die emosionele skade daarvan wil herstel, bied die Amerikaner Debbie Rose die kursus Rebloom aan by www.debbierose.com of www.aftermyaffair.com en vir diegene wat probeer herstel na ‘n verhouding met ‘n narsis, is daar die Australianer Melanie Tonia Evans se Thriver-kursus wat al duisende mense (veral vroue) gehelp het.

Die YouTube kanaal Surviving Narcissism deur Dr Les Carter bied ook baie goeie hulp en raad en kursusse aan hoe om ‘n narsis in jou lewe te identifiseer en te hanteer en hoe om die skade wat dié mense aanrig, te herstel.

Richard Grannon sê ‘n ding nes dit is en draai glad nie doekies om op sy YouTube kanaal nie. Hy is dikwels baie vermaaklik terwyl hy ook ‘n baie goeie sielkundige en lewensafrigter is.

YouTube is die kanaal om te leer

Deesdae is YouTube een van die handigste platvorms om inligting en hulp te kry. Ek wend my gereeld na YouTube om my fiets reg te maak, van hoe om jou ratte te stel tot hoe om ‘n ketting reg te maak.

Daar is verskeie kursusse om musiekinstrumente te leer speel. As jy kitaar wil leer speel, bied Justin Guitar kursusse aan vir beginners tot meer gevorderde spelers. Die kursus vir beginners bevat 72 gratis lesse.

Die kanaal Foodwishes op YouTube het heerlike maklike resepte wat jou verseker sal inspireer om ‘n voorskoot aan te sit. Jamie Oliver bied ook klasse op YouTube aan by https://www.youtube.com/user/JamieOliver en die kanaal  Tasty het wonderlike idees:

https://www.youtube.com/channel/UCJFp8uSYCjXOMnkUyb3CQ3Q

As jy die skilderkwas nader wil trek, is https://conceptartempire.com/free-art-youtube-channels/  en https://drawabox.com/ die heel beste plekke om te leer hoe om dit te doen.

Leer ‘n nuwe taal

Duolingo is die heel grootste platvorm om ‘n nuwe taal te leer en hulle suksessyfers is hoog: www.duolingo.com

Leer Kook

As jy soos ‘n sjef wil leer kook en boonop gratis, besoek World Chefs Academy by

http://www.worldchefsacademy.com/

The Kitchn:

https://www.thekitchn.com/collection/cooking-school

Yuppie Chef:

Yuppie Chef het tans ‘n 30 dae verniet kook kursus, en andersins is dit goedkoop genoeg (R97 tot R285).

https://www.yuppiechef.com/yuppiechef-cooking-school.htm?id=49081&name=Yuppiechef-Online-Cooking-School-30-Days-Free-Bundle

Leer Programmeer

Deesdae kan ‘n mens selfs aanlyn leer programmeer en hierdie programme is toeganklik en maklik genoeg vir kinders ook – besoek W3Schools by https://www.w3schools.com/  of

Free Code Camp by https://www.freecodecamp.org/

Leave a Reply

error: Content is protected !!