Skip to main content

Selfs Cyril Ramaphosa se grootste ondersteuners sal hom moeilik kan verdedig nadat hy gister in sy weeklikse nuusbrief geskryf het die tempo van hervorming by Eskom versnel en Suid-Afrikaners gevra het om briek aan te draai met die sinisisme oor die kragverskaffer.
Sy versoek kom nadat Suid-Afrikaners verlede week en die naweek lang woorde gevloek het oor ernstige beurtkrag. Baie mense glo beurtkrag het selfs vlak 6 bereik, maar dat die publiek nie daaroor ingelig is nie.
Ons maak vordering om baie van ons uitdagings op te los, van korrupsie, energietekorte tot die hindernisse wat beleggings ontmoedig,” het hy geskryf.
Pres. Ramaphosa, die goed wat jy hier bo noem, is nie “uitdagings” nie.
Ons het voorheen een van die goedkoopste, doeltreffendste kragvoorsieners ter wêreld gehad, maar dis deur jou party in ‘n stotterende wrak verander.
Ons het nog altyd korrupsie gehad, maar waar daar voorheen twee stukke korrupsie in elke twaalf projekte was, is daar nou twaalf stukke korrupsie in elke twee projekte.
En kwalik twee dekades gelede nog, tydens die presidentskappe van jou voorgangers Thabo Mbeki en Nelson Mandela, het beleggers tougestaan om in Suid-Afrika te belê.
Meneer die president, jou party is die grootste ekonomiese ramp wat hierdie land nog getref het, maar om vir Suid-Afrikaners te vra om nie sinies jeens Eskom te wees nie, is ‘n klap in die gesig van trotse Suid-Afrikaners.
Dit is die tipe opmerking wat baie mense laat twyfel of jou regering in dieselfde land as ons woon.

Leave a Reply