Skip to main content

Die regering het verlede jaar met die uitbreek van die Covid-pandemie met groot fanfare aangekondig dat die verspreiding van fopnuus ‘n kriminele oortreding is wat as ‘n misdaad strafbaar is.
Tog het fopnuus, oftewel disinformasie, so algemeen geword dat daar byna nie ‘n dag verbygaan dat ons nie daarmee gebombardeer word nie. In reaksie begin Die Waarheid vandag met ‘n reeks waarin ons die waarheid van boodskappe wat algemeen versprei word, toets.
Gisteroggend het ‘n WhatsApp-boodskap ons bereik wat die volgende beweer:
Ek hoop julle is bewus daarvan dat as julle die inenting vat, dan verklaar dit basies jou lewensversekering null & void. Omdat dit eksperimenteel is. Gaan lees gerus jou polisbewoording noukeurig deur, voordat jy op my wil afgaan. As jy in die versekeringsbedryf werk, behoort jy dit sommer outomaties te weet. Al gaan jy dood in ‘n motorongeluk, behoort jy dit sommer outomaties te weet. Al gaan jy dood in ‘n motorongeluk, as die versekerings maatskappy navraag doen en jy het die ent gevat, sal hul uit hul pad gaan om nie uit te betaal nie.”
Ervaring het my al geleer dat versekeringsmaatskappye nie daarvan hou om eise uit te betaal nie, maar kan dit die waarheid wees? Is die inenting dan nie veronderstel om lewens te red nie, en sou versekeringsmaatskappye in daardie geval nie die inenting verwelkom nie?
Een oproep na Sanlam – tradisioneel die lewensversekeringsmaatskappy vir Afrikaanssprekende mense – het die boodskap as snert geettiketteer.
“Nee, meneer,” het die hulvaardige klerk aan die ander kant gesê. “Ons het net vanoggend ‘n boodskap gekry dat die inenting jou nie diskwalifiseer vir uitbetaling nie. Selfs al sterf jy weens die inenting self, betaal ons uit. Die inenting affekteer jou polis op geen manier hoegenaamd nie.”
Die inenting is voorts nie eksperimenteel nie en is amptelik goedgekeur.

Verskeie weergawes van die boodskap het die eerste keer in Maart vanjaar in Amerika opgeduik en het ook reeds in Brittanje die ronde gedoen. Dit is, sover bekend, die eerste keer dat dit in Suid- Afrika kop uitsteek.
In party weergawes van die fopnuusboodskap beweer die person dat hy sy versekeraar gekontak het. In ander weergawes het iemand se tannie omgekom en die versekeraar wou nie betaal nie.
In daardie lande, net soos in Suid-Afrika, is die aansprake onwaar.

Leave a Reply

error: Content is protected !!