Die politieke wittebrood is iets van die verlede vir die Amerikaanse president Joe Biden.
Toe hy in Januarie vanjaar ingehuldig is, was hy in ‘n uitstekende posisie. Die land was danksy die Covid-pandemie in chaos gedompel. Werkloosheid was hoog en die ekonomie was pas deur ‘n resessie. Dit was amper onmoontlik om droog te maak.
Amper, want dit begin gaandeweg lyk asof hy homself begin vasdraai.
Van die eerste goed wat hy gedoen het, was om sy voorganger, Donald Trump, se streng immigrasiebeleid tot niet te maak, toe stroom tienduisende vlugtelinge na die grens tussen Meksiko en Amerika – insluitende duisende kinders sonder volwasse begeleiding.
Hulle word nou in haglike toestande aangehou en die meerderheid Amerikaners blameer hulle president vir die krisis. Behalwe natuurlik Biden – hy wys die vinger na Trump, maar hy kry selfs uit die binnekring van sy eie Demokratiese Party bitter min steun hiervoor.
Sy groot probleem is egter dat Amerika deur ‘n inflasiekrisis in die gesig gestaar word. Maand-op maand-nflasie is die hoogste sedert die tagtigs en twaalfmaande-inflasie was laas met die huisverbandkrisis van 2007-09 so hoog soos nou.
Vir ons as Suid-Afrikaners is dit kommerwekkend. As die Amerikaanse ekonomie nies, kry die res van die wêreld griep, lui die ou uitdrukking, en ‘n Amerikaanse ekonomiese ineenstorting kan die hele aardbol seermaak.
Ons almal wil graag sien dat hy suksesvol is. Om te wens Biden verongeluk die ekonomie, is bietjie soos om te wens die drywer van die bus waarop jy self sit, ry in die see in.
Om hierdie rede is van die goed wat in die VSA se ekonomie gebeur, kommerwekkend.
Werkloosheid bly hoog. Daar word baie poste geadverteer, maar werkgewers kry dit nie gevul nie, omdat baie mense verkies om eerder op Biden se ruim Covid-hulp te bly as om vir minder te werk.
Kospryse skiet die hoogte in. Mielies- soja- en koringpryse is die hoogste in baie jare. Mieliepryse, byvoorbeeld, het van $3,80 per bushel in Januarie verlede jaar tot $6,75 gestyg.
Hoendervlerkies is onbetaalbaar en haas onverkrygbaar. Brandstof is skaars en die pryse daarvoor is astronomies hoog. Staal kos 35% meer as die vorige hoogste prys ooit. Koper was nog nooit so duur nie. En houpryse het sedert die begin van verlede jaar vervierdubbel en sedert Januarie vanjaar verdubbel.
As rou material so duur word, is dit natuurlik voorspelbaar dat verwerkte produkte se pryse ook deur die dak sal skiet. Dit verhoog die kommer in Amerika dat daar ‘n geweldige inflasiekrisis voorlê en vloekwoorde soos hiperinflasie duik al meer gereeld op.
Intussen gaan Biden voort om geld te blaas asof hy Robert Mugabe se vrou is, en nie “Joe Biden’s husband”, soos hy hom verlede jaar by geleentheid per abuis voorgestel het nie.
Hy het onlangs sy $6 triljoen plan aangekondig, en die Fed druk geld dat dit klap om daarvoor te kan betaal. ‘n Sterk ekonomie kan natuurlik meer geld in omloop redelik maklik verteer, maar nie triljoene nie. Dit lei tot… reg geraai: meer inflasie.
Van die Fed gepraat: die Fed het Amerikaners verseker dat die huidige inflasie net ‘n oorgangsprobleem en baie tydelik van aard is. Die Waarheid kan die toekoms nie voorspel nie en dalk is die Fed reg. Maar tot nou toe het hulle ‘n bitter swak rekord as dit by toekomsvoorspelling kom.
Dit is immers dieselfde Fed wat die eiendomsverbandkrisis van dertien jaar gelede as ‘n tydelike hindernissie beskryf het en opgetree het asof dit bloot sal oorwaai. Nes hulle nou optree asof inflasie net sal oorwaai.
Ironies genoeg is dit een van Biden se doelwitte om geld by maatskappye en die rykes te vat om vir die armes te sorg – of om sukses te penaliseer, soos baie dit sien.
Die gevolg van die dreigende inflasiekrisis is nie net dat dit die armes die swaarste tref nie, maar ook dat Biden gedwing kan word om sy beplande verhoogde maatskappye-belasting in te stel, te heroorweeg.