Skip to main content

Die eerste artikel in ons reeks oor Die Legendes van Afrikaanse Musiek deur SONJA BROWN.

10 Mei 1945, Rustenburg.

Jacobus Johannes du Plessis, alom bekend as Koos Doep, gee sy eerste skreeu as seun van boere-ouers Jacobus en Hester du Plessis.

Na onvoorsiene dinge moes die gesin na Springs verhuis nadat die plaas ten spyte van jare se harde werk verlore gegaan het. Ten minste het sy pa ‘n nuwe werk gehad.

Koos en sy ouer sibbe, Henning, Boet en Hester, bring die grootste deel van hulle kinderlewe in hierdie dorp deur. Springs … die plek waar meeste van die bekende sanger se lirieke opgedroom is terwyl hy skoolgegaan het in Laerskool Pam Brink en Hoër Seunskool Hugenote. Gedurende sy Hugenote-jare waag hy sy eerste tree in die rigting van sy nog onbekende musiekdrome.

Sy droom word nek omgedraai deur die een persoon wat hy gehoop het sy talent sou raaksien. ‘n Musiekonderwyseres vertel hom gedurende sy standerd 8-jaar dié woorde: ‘Jy mors net jou ouers se geld, jy het nie die nodige vaardighede nie…’

Sy is die swendelaar van wie hy sing in ‘n lied met dieselfde titel.

Liedjieloos verlaat hy die hoërskool en behaal ‘n onderwysdiploma te Normaalkollege in Pretoria. Volgens hom blyk dit nie die regte besluit vir hom te wees nie, en hy sluit direk daarna by Tukkies aan waar hy ‘n BA-graad verwerf met spesialisering in Afrikaans. Die studiegogga wou nie laat los nie en hy skryf in by Wits universiteit om ‘n Honneursgraad in Afrikaans-Nederlands te voltooi. Sy liefde vir tale was die dryfveer hiervoor.

Die resep vir sy liedjiewalle om te breek is toe al die tyd ‘n universiteit, ‘n 2de-handse kitaar wat sy een vriend in sy hande gestop het, en hom ‘n paar basiese drukke op die instrument geleer het. Nou vloei sy gedagtes, woorde en akkoorde onbeheers.

Saans het hy sy tyd verwyl deur die koshuismeisies onder hul vensters te gaan vermaak. Een van sý gunsteling-liedjies waarna hulle moes luister was die Briels se “Moenie vir pappie meer sherry verkoop, anders kom hy nie huis toe vanaand nie“. Hy was net nie seker hoeveel húlle daarvan gehou het nie…

Gedurende 1967, nadat hy sy studies voltooi het, het hy en ‘n koshuis-pêl, Douglas Davis, ‘n woonstel in Wolmaransstraat naby Joubertpark in Hillbrow begin deel. Dit was net nadat hy as verslaggewer by Die Vaderland in Empireweg begin werk het.

Koos Doep en Douglas het op ‘n dag besluit om ‘n skool in die hartjie van Hillbrow – naby Twiststraat – te besoek. Liewe hemel! Dit was ‘n skok om te sien hoe die skool se vensters met houtpanele bedek was om die lawaai, die stof van Hillbrow se strate, en ook die sonlig buite te hou. Dit het hom soos ‘n vuishou in sy maag getref.

Jare later het hy besef dat daardie skool se letsels op sy siel die heilige skrif aan die liedjiemuur in sy gedagtes geword het, en so word “Sprokie vir ‘n stadskind” gebore. Arme Douglas was om halfdrie een oggend sy onwillige proefkonyn, die oor wat moes luister na sy skepping oor daardie skool se besoek: “As die reën van stof en roet verby is en die rook verdwyn…”

Koos Doep was inderdaad diep geroer deur die beton-tronk waarin hierdie kinders hulle daagliks bevind, vandaar die woorde in die liedjie, “oor kranse van beton”, en “volg hom elke nag oor swart riviere”. Laasgenoemde verwys na Hillbrow se swart en ongenaakbare teerpaaie. Die einde, “dalk vind jy die land van blou saffiere en dalk ‘n brokkie son”, is geskryf met die hoop dat die skoolkinders wel eendag iets kleurvols sou beleef.

Verskeie geleerde mense het baie te sê gehad oor sy werk, en meeste van dit wat hulle te sê gehad het, was in die kol. Een skryf byvoorbeeld dat hy met “Sprokie” nie net direk tot die irrasionele nie, maar ook tot my medemens wat na geluk en geborgenheid soek, verwys. Dit is inderdaad so. Die geluksoeker hier is elke liewe stadskind, jeugdiges vir wie “geluk en vreugde” eintlik ‘n gegewe reg moet wees, maar as stedelinge word hulle verwyderd van hierdie juwele groot. Dis hartseer dat die lewe sulke ongenaakbare draaie met ons kinders loop.

“Sprokie” smeek eintlik die beton kinders om met ander oë na die vaal niks, na die grys areas, van die lewe te kyk. Kinders moet kan droom. Kinders moet kan hoop. Kinders moet kan oorleef en tevrede wees. Ten spyte van die onsekerheid wat om ons baljaar:

Maar hier moet jy jou nimmer laat bind,

want so lui die ou-ou sprokie, my kind:

As jy geluk en vreugde wil vind,

soek die neonboog se punt.

Koos Doep wou glo dat sy woorde mense aanspoor. Dat sy woorde ‘n sagtheid in ‘n harde hart laat setel. Maar meestal wou hy glo dat sy woorde mense laat besef dat niks in hierdie lewe wel gewaarborg is nie.

Volg hom elke nag oor swart riviere,

oor kranse van beton;

as jy aanhou stap, tienduisend ure,

sal jy dalk daar kom.

Al bly die hemel sonder sterre

kan jy steeds die neonboog volg.

Al is daar soms nie ‘n definitief nie,

is daar altyd ‘n miskien:

Dalk vind jy die land van blou saffiere…

en dalk ‘n brokkie son.

Sy lewe het nie nét uit werk en musiek bestaan nie.

In 1964 het die heelal volgens hom die mooiste meisie op die kampus, Mornay du Plessis, oor sy pad gestuur, en die feit dat hulle dieselfde van gehad het, was vir hom ‘n duidelike teken dat sy spesiaal vir hom bedoel was. Vyf jare later maak sy hom die gelukkigste man op aarde toe sy belowe dat sy hom vir altyd sal liefhê.

Drie pragtige dogters, Irma, Karien en Karla, word uit hul huwelik gebore. Elke spesiale vrou in sy lewe, Mornay en sy drie dogters, het elkeen ‘n eie persoonlike liedjie uit sy hart gekry.

Sy musiek? vra mense. Die woorde uit sy gedagtes is graag vir sy vriende en familie gesing. Die heel lekkerste was om veral snags, na saktyd by die koerant, met ‘n drinkdingetjie te sit en op sy kitaar te tokkel en te sing, die nagredaksie sy gehoor. Groot gehore het hom ontsenu. Hy was op sy gelukkigste as hy by intieme byeenkomste kon sing.

Hierdie klein privaat optredes het ‘n vinnige dood gesterf nadat ‘n vriend van hom, Karl Theunissen, in 1975 sonder sy medewete ‘n kassetopname van sy musiek na Nick Taylor geneem het. Julle ken mos vir Nick… Hy het ‘n treffer gehad met die liedjie, “Stille rivierstroom” waarin al die vissies omgekom het.

Nodeloos om te sê, Nick het gehou van dit wat hy gehoor het, want toe Koos Doep weer sy oë uitvee het ander mense ook van hom en sy musiek geweet. Hy het egter steeds halsstarrig vasgeskop en enige publisiteit of kommersialisering van sy liedjies soos die pes vermy, maar twee jaar later is hy tóg oorreed om drie van sy liedjies op die televisieprogram Perspektief te sing. In daardie selfde jaar was hy ook deel van Stephan Bouwer se televisiereeks, ‘Fyn net van die woord’, ’n reeks programme met voorlesings van gedigte deur jong en gevestigde digters en met musiek deur onder meer Laurika Rauch, Nick Taylor en natuurlik, Koos Doep.

Katinka Heyns, die dame met die 1979 treffer TV-reeks Phoenix en Kie was op soek na ‘n temalied vir die reeks en het onthou van die skaam outjie met die kitaar wat sy op Fyn net van die woord ontmoet het. Kinders van die Wind, en nog drie ander liedjies, Sprokie vir ’n Stadskind, Skielik is jy Vry en Somer is Verby wat ook in die reeks deur Laurika Rauch gesing is, word gekies vir die reeks. Kort na die TV-reeks het Laurika ’n solus sewe van Kinders van die Wind by David Marks en sy Stanyan-platemaatskappy vrygestel.

Koos Doep se mond het behoorlik oopgehang van verbasing, want die liedjie was só gewild dat binne die eerste week na die vrystelling die opname twee maal herdruk moes word. Sewe weke later het hy en Laurika goue plate vir verkope van meer as 25 000 kopieë van die liedjie ontvang.

En nog was dit het einde niet. Gedurende Oktober 1979 haal Laurika se solus sewe, Kinders van die Wind, die nommer drie posisie op Springbokradio se Top 20, en op 26 Oktober daardie jaar beklee hy die nommer een posisie op Radio 5 se Best Sellers-program, gebaseer op plaatverkope. En les bes word Kinders van die Wind in 2014 as die grootste Afrikaanse liedjie van alle tye aangewys.

Alles het só vinnig gebeur, en dít met ‘n liedjie wat al in 1967 geskryf was! Die sukses van Kinders van die wind het gelei tot sy debuutalbum, Skadu’s teen die muur. Benewens die vier snitte wat in Phoenix en Kie gebruik is, en die titelsnit, was daar ook ander treffers, soos As jy my kon volg, Op die pad na Nooitgedacht en Najaarsdroom. Koos Doep was deur baie kenners as ‘n gerekende musiekmaker geag, maar was steeds teësinnig om in die kollig te wees!

Sy liedjies het namens sy gedagtes gepraat. Dit was vir hom ‘n manier om dit wat hy voel uit te druk. Dit was ook vir hom heel aanvaarbaar as mense sy musiek wou kritiseer. ‘Trek maar my liedjies uitmekaar, en skryf wat ookal julle wil oor hulle. Ek gee nie ‘n duit om nie, want ek is ‘n doodgewone ou met ‘n doodgewone lewe,” het hy keer op keer gesê.

Koos Doep kan as die pionier van die Afrikaanse luisterliedjie gereken word. Mense sê goed soos ‘dat sy woorde hoegenaamd nie vergelyk kon word met die soetsappige snert wat destyds gereeld in Afrikaanse musiekliefhebbers se keelgate afgedruk is nie’.

Koos Doep wou ook graag iets vir die godsdienstige mense lewer. Gebed word gebore. Dié liedjie is deur verskeie kunstenaars opgeneem, maar ironies genoeg het hy self nooit die kans gekry om dit op te neem nie, omdat hy dood is voordat hy dit kon doen. Maar dis oukei. Dis hoe die lewe se meetsnoere val.

Wat ek is, is net genade.

Wat ek het, is net geleen.

Leave a Reply

error: Content is protected !!