Skip to main content

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het die Helen Joseph-hospitaal gister besoek om vas te stel wat die omvang van probleme by die instelling is.

Pasiënte en die omliggende gemeenskappe kry die swaarste as gevolg van die waterkrisis wat daar heers ná ‘n kragonderbreking by Rand Water se Eikenhof-pompstasie.
Die MRK is nie tevrede met die standaarde van netheid in die Helen Joseph-hospitaal in Auckland Park nie. Die waterbesnoeiing het verskeie munisipaliteite geraak, waaronder Mogale City, Merafong en die Wes-Rand. As gevolg hiervan het tenkwaens water by verskillende hospitale voorsien, maar volgens die MRK is dit eenvoudig nie goed genoeg nie. Volgens hulle is die tekort aan water in die Helen Joseph-hospitaal ‘n bedreiging vir die lewe en menswaardigheid van pasiënte.
Die fasiliteit is tans onder ernstige druk omdat dit ook pasiënte van die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal huisves. Met toilette wat met riool verstop is, is die situasie haglik.
Die Gautengse provinsiale bestuurder, Buang Jones sê: “Die hospitaal voldoen tans nie aan die basiese standaard van netheid nie. Sommige pasiënte moes weggewys word. Die skoonmaakstelsel het gestink, daar is ook ‘n groot moontlikheid dat rotte en muise gelok kan word, en as hulle nie vinnig reëlings kan tref nie, gaan dit ‘n teelaarde vir bakterieë wees.”
Intussen het Johannesburg Water beloof om binne die volgende vyf tot sewe dae ‘n volledige waterverskaffingsdiens te bied.

Leave a Reply

error: Content is protected !!