Skip to main content

Facebook het sy verbod opgehef op plasings wat beweer dat Covid-19 mensgemaak was.

Die sosiale mediareus se beleidsverskuiwing veroorsaak dat die debat rondom die ontstaan van die Sars-cov2-virus, wat byna 18 maande gelede vir die eerste keer in Wuhan, China, geidentifiseer is, al hoe heftiger word.

Die Wall Street Journal het Sondag berig dat drie navorsers van die Wuhan Instituut vir Virologie reeds in November 2019 siek geword het met simtome wat ooreenkom met Covid.

Facebook het verlede week op hulle webwerf aangekondig: “In die lig van voortdurende ondersoeke na die oorsprong van Covid-19 en na konsultasie met openbare gesondheidsdeskundiges, sal ons nie langer die aanspraak dat Covid-19 mensgemaak is verwyder nie.”

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het verlede week die Amerikaanse intelligensiediens opdrag gegee om die oorsprong van die virus te ondersoek nadat China aan die Wereld-gesondheidsorganisasie gesê het sy ondersoek na die oorsprong van die virus is afgehandel en dat die ondersoek nou na ander lande verskuif moet word.

18 prominente wetenskaplikes het verlede maand versoek dat ‘n indringender ondersoek gedoen moet word na die omstandighede waarin dsie virus opgeduik het, insluitende na die moontlikheid dat dit per ongeluk uit ‘n laboratorium vrygestel is.

China ontken die afgelope 18 maande heftig dat dit uit een van sy laboratoriums kon kom en beskuldig die VSA daarvan dat hy die laboratorium-teorie opblaas.

Sondag het die Chinese Departement van Buitelandse Sake juis weer verwys na ‘n WGO-geleide ondersoek se bevinding dat dit onwaarskynlik is dat die virus per abuis uit die laboratorium in Wuhan kon kom.

Die Global Times, ‘n nuusdiens wat aan die Chinese Kommunistiese Party behoort, het intussen met woede verwys na ‘n opmerking deur die WGO se direkteur-generaal Tedros Adhanom Ghebreyesus tydens die bekendmaking van die bevindinge.

Hy het gesê daar behoort verdere ondersoek te wees na die skrale moontlikheid dat die Coronavirus uit die laboratorium in Wuhan gekom het. Die Chinese regering het in reaksie ‘n beroep op die WGO gedoen om “ ‘n leidende rol te speel in die respektering van die wetenskap”.

Intussen het die Australiese Sky News verlede maand berig dat die Aussie-senator James Paterson gesê het hy is besorg oor China se gebrek aan deursigtigheid na onthullings dat Chinese militêre wetenskaplikes reeds in 2015 die mootlikheid van die gebruik van coronavcirusse as biologiese wapens in ‘n document bespreek het.

Tom Tugendhat, voorsitter van die Britse Buitelandse Sake se Select Committee, het ook gesê die feit dat hoogaangeskrewe Chinese wetenskaplikes so ‘n moontlikheid net bespreek het, is kommerwekkend.

“Hierdie is hoofstroom-wetenskaplikes wat die aandag van die Kommunistiese party geniet..”

Beide politici het ook bevraagteken hoe deursigtig die WGO was in hulle samewerking met die WGO.

Biden se versoek dat die moontlikheid ondersoek moet word dat die virus uit ‘n laboratorium in Wuhaqn kom, beteken dat die Amerikaanse Demokratiese Party nou in ‘n verleentheid sit nadat hulle die voormalige Republikeinse president Donald Trump as ‘n idioot afgemaak het toe hy meer as ‘n jaar gelede met die teorie vorendag gekom het.

Trump het verlede Dinsdag, soos gewoonlik sonder ‘n sweempie nederigheid, in ‘n verklaring gesê: “Nou sê almal ek was reg deur Wuhan te identifiseer as die oorsprong van die virus, wat ook soms die Chinese virus genome word. Dit was vir my van die begin af ooglopend, maar ek is, soos gewoonlik, kwaai gekritiseer.”

One Comment

  • Naomi says:

    Trump was vir hulle n struikelblok. Hy moes uit omdat hy geweet het wat aangaan en nie stil gebly het nie. Ek sé ook dit is n gemaakte Pes-Uit-Die-Hel. En het nou hand uitgeruk…

Leave a Reply