Skip to main content

SONJA BROWN

Dit kom soos ‘n dief in die nag en plunder. Dan steel dit siele en glimlagte en huppels en wilskrag.

Dit verander wesens in sleepvoet-skaduwees wat met loodswaar hande langs onwillige bene loop, die rûe krom, die oë neergeslaan sodat die lig nie daarin kan skyn nie.

En wie de hel gee om? Nie die vraagtekenskouer-mense wat heel deur hierdie dief ingesluk is nie.

Kanker van die ka, noem seker geleerdes dit. Perfekte benaming. Nes kanker mergel dit, dra dit lyers lewend na ‘n graf toe, of hulle dit wil erken of nie. Die sterkstes probeer met vals maskers deur die dae kom. Vra jy vir hulle om te skryf hoe hul voel kry jy só ‘n gedig:

die siel pyn, die liggaam kwyn

-honger angs verslind dit heel-

en bitter kruik vul met huil

wanneer nag só lewens steel;

wil’s traag, ervaar apaties,

woede bars deur grys newels

met wurghande, en druk vas;

die dood dra spykerstewels

swart slaap lok hulle nader

skuldgevoel klop duid’lik aan

grynslag eet die glimlag gou

en duisternis steel die maan…

of so een:

gekneus, geknak, gekrok

hang haar siel aan ‘n gare

wyl die duiwel en engel

stry oor kosbare ware,

haar lippe klankloos geseël

en woorde word vermoor

soos ‘n Joodse oondkind

voordat iemand dit kan hoor,

sy gee op en gee dan oor

aan die wenner in die stryd

die witvlerk kind tree terug

en die nagkind glimlag wyd.

Nagkinders eet anders. Slaap anders. Dink anders. En die wat dit kan bespeur is magteloos. Hoe troos jy as jy teen ‘n dik muur vaskyk? Hoe maak jy grappe as die glimlagte onderstebo is?

‘Hel op aarde, dis hoe ek voel,’ vertel *Sarah. ‘Ek voel soms vere, en ander kere druk die berg met wat andersins alledaagse takies moet wees my vas teen die dor aarde. En wanneer ek dit regkry om op te staan, gryp die maalkolk my en trek my na benede. Na ‘n donkerte wat net party mense oorleef.’

Kan depressie dan nie behandel word nie?

Kliniese depressie word soms verkeerd behandel, of in sekere gevalle glad nie. ‘n Familielid ly aan bipolêre depressie. As dit dalk betyds raakgesien was, en die regte behandeling toegepas was, het sy nie haar vyfjarige seun met ‘n mes in die bolyf gesteek nie. Haar oomblik van swart waansin het haar oortuig dat die duiwel in sy borskassie was. Sy kon niks van die voorval onthou toe sy snikkend by sy begrafnis opgedaag het in voetboeie nie.

Die hartseerste van alles is dat ongeveer 10% van die mensdom een of ander tyd gedurende hulle leeftyd ‘n vorm van kliniese depressie ervaar. Ongeveer twee derdes sal nie die hulp ontvang wat hulle nodig het nie, al is kliniese depressie een van die mees behandelbare siektes.

Die groot skaamte keer meeste depressiegevalle om te erken dat hulle hulp nodig het. Die huidige samelewing dra die skuld hiervoor. ‘In toentertyd was depressiewe mense as mal geklassifiseer en in afgesonderde aanhouding weg van ander mense opgesluit. Sê nou dit gebeur met my? Ek sal nie die skande oorleef nie, en ook nie my vriende, familie en kerkmense in die oë kan kyk nie,’ vertel *Willem in ‘n moeë stem. ‘As ek ‘n kleur daaraan moet toeken, so ek blou gebruik. Kan ek vir jou ‘n stuk lees wat mý gevoel beskryf?’

Natuurlik kan jy!

‘Blou angs, blouste gloed om my menswees wyl dooie vingers krampagtig tas deur newels van waansin; net vlak baba asem in my mond, dié verstikkende kobalt effek op my moeë siel versmorend… Tik-tak, tik-tak, is dit te laat om sin te maak van drukskrif werkwoorde wat blou skisofrenie gillend uiter en die pigmentasie van vrede en kalmte verberg onder chaos? Angs ry my gene bloots, salpeter sweet bedek my flanke in die nimmereindigende vals wedren na kalm, na stil, na vrede, die rehabilitasie elektries, medikasie meganies, eie ek katatonies. Ek droom dat knallende klank en swaelreuk die slotrede sal wees waar alles eensklaps eendag sal vervaag na niks in my nou grou blou kou…’

*Sarah vertel dat sy jare gelede ‘n geweldige stresvolle ervaring gehad het. Haar ma het haarself om die lewe gebring. Sy was natuurlik erg getraumatiseerd, maar daarna was daar geen keer nie aan opeenvolgende depressiewe episodes wat sommer spontaan in haar lewe kom kuier het nie.

‘Die stoomtrein was sonder ‘n drywer, die kolebak oorvol, en die helling na onder fel.’ Só beskryf sy haar lewe.

Wat veroorsaak depressie?

Verskeie faktore, volgens geleerdes. Siektes wat ‘n tol op die liggaam eis, wanbalanse in die brein, dwelms, alkohol, en stres, om maar net ‘n paar dinge te noem. Depressie, ‘n siekte wat nie met ‘n klap van die vingers sal verdwyn nie. Bid help ook nie. En die hoender se wensbeen verander geen simptome daarvan nie.

Dus, as jy selfmoord gedagtes ervaar, belangstelling in die lewe verloor, ophou omgee oor jou voorkoms, te min slaap of net heeltyd wil slaap, moeg bly, jou aan drank of ander middels vergryp om van die lewe en hoe jy voel te ontsnap, huilerig en eensaam voel, of heel tyd angstig is, lui jy heel moontlik aan depressie.

Raadpleeg asseblief ‘n geleerde persoon. Daar is hulp. Daar is mense wat vir jou omgee, en …daar ìs hoop.

Leave a Reply