Skip to main content

Kwalik ‘n halfdag nadat Van Coke die groter, swaarder voormalige Springbok-losskakel Derick Hougaard in ‘n heldhaftige vertoning oor ses rondes in die bokskryt geklop het, het hy ‘n akoestiese optrede by Monte Dios Dome in Pretoria gelewer. En op die koop toe sommer met CHANTÉ DANIEL van Die Waarheid oor sy planne vorentoe gesels.


“Derick was die gunsteling op papier, want hy was ‘n beroepsportman en hy is groter as ek, maar ek het voorberei daarvoor,” het die rocker gesê.
Francois was al voorheen in ‘n boksgeveg, maar het dit nie so ernstig soos Saterdagaand se geveg opgeneem nie en het teen die komediant Rob van Vuuren, slae gekry. Al het hy nog baie om te leer oor boks, wil hy graag voortgaan daarmee en kyk waarheen die bokspad hom vat. Hy brand byvoorbeeld om sy nederlaag teen Van Vuuren te wreek. “Ek sal graag vir Rob wil ‘rematch’,” het hy vir Die Waarheid vertel.
Maar hy wil nie vorentoe al die praatwerk vir sy vuiste los nie. Fokofpolisiekar het self nog heelwat om te sê, meen hy. “Die groot ding vir die band is om te sing oor die dinge wat op daardie oomblik relevant is in hulle lewens. Toe hulle ‘n jonger band was, het hulle gefokus op die dinge van daai tyd en nou fokus ons steeds op wat in die wêreld om ons gebeur. Byvoorbeeld ons nuwe liedjie rondom die pandemie, Ons is die Virus.“
Fokofpolisiekar was altyd ‘n sielkundige uitlaat vir Francois. Deur die lirieke te kan sing en skree kon hy baie van sy eie woede uitkry, vertel hy.
Baie waarnemers meen daar gaan in die toekoms meer op Van Coke en minder op Fokofpolisiekar gefokus word, maar die sanger van die groep sê as Fokofpolisiekar hom nodig het, sal hy altyd daar wees.
“Met Van Coke Kartel wat nie meer bestaan nie, het ek meer tyd om op die groep en my eie musiek te fokus. In 2017 het Van Coke Kartel hulle laaste toer gedoen. Ek het net nie meer tyd gehad om op twee groepe en myself ook te konsentreer nie.”
Hy gesels graag oor die amusante musiekvideo van Begin van die Einde. Die video het ‘n tema van Scooby-doo-agtige karakters wat na ‘n spookhuis toe gaan. Francois was mal oor hierdie idee.
“Omdat die lirieke van die liedjie so ernstig en diep is, wou ek net iets hê wat bietjie meer komies is vir die video.”
“Ek het nie regtig ‘n spesifieke boodskap nie, ek dink die groot ding is net dat mense vir hulself moet dink.” Francois hou van persoonlike liedjies en eerlike lirieke en dit is wat hy probeer bereik met sy eie musiek.
Van Coke se nuwe liedjie “Ons het gewen” kom oor twee weke uit. Hy het die liedjie al nege weke voor sy geveg met Derick geskryf, en die video wys al die agtergronddele van sy voorbereiding vir die geveg. As Francois verloor het, sou hy ‘n backup-plan gehad het om nog steeds hierdie liedjie relevant te maak.
Die sanger meen dit is nou seker die moeilikste tyd om met ‘n nuwe rockgroep en musiekloopbaan te begin. Veral in ‘n alternatiewe rockgroep. “Die belangrikste ding is om in ‘n groep te wees met mense wie jy oor die weg kom, want jy gaan so te sê getroud wees met die mense. En oefen saam, oefen hard.”

Francois is vol planne vir sy toekoms. Hou dop wat in sy persoonlike lewe sowel as sy loopbaan plaasvind.
Instagram: @francoisvancoke
Facebook: Francois van Coke

Leave a Reply

error: Content is protected !!