Met die wêreld wat ‘n groter deurmekaarspul is as ooit tevore, is dit nie vreemd dat niemand hier kort voor die Olimpiese Spele in Tokio oor so bietjie meer as drie maande voorspellings wil waag nie.
Goed is immers so omgekrap dat dit laas jaar se Spele is waarvoor ons nou nog wag…
Maar Die Waarheid skrik nie vir onvoorspelbaarheid nie en sal vandag ‘n raaiskoot of twee waag.
Die maklike voorspellings: minstens drie groot name gaan die Spele misloop omdat hulle positief vir opkikkers getoets word, en ‘n handvol sal deur Covid-19 gepootjie word.
Die meeste goue medaljes: Dis maklik om te raai Amerika sal die meeste goue medaljes wen. Die vraag is egter of hulle by 50 gaan uitkom. Die Waarheid voorspel dat hulle dit net-net nie gaan maak nie met 49 goues. China en Rusland gaan mekaar opdreun vir die tweede plek, met China wat die Russe dalk net-net gaan troef. Frankryk, Duitsland en Japan sal ook met stewige medalje-oeste kan spog.
Niemand gaan veel aandag gee aan die vyf nuwe “sportsoorte” by die Spele nie: Ek beskou branderplankry, skaatsplankry, sportklim, karate en sagtebal/bofbal as georganiseerde leeglê – nie as sport nie.
Die Blitsbokke gaan hierdie keer die paal haal in die rugby-sewes.
Die grootste nommers by die Spele is tradisioneel die 100m en marathon vir mans. Met Christian Coleman, die afgelope paar jaar die vinnigste man in die wêreld, wat geskors is omdat hy winkels toe gegaan het toe hy vir ‘n opkikkertoets moes aanmeld, voorspel ons dat Noah Lyles die 100 én die 200m gaan wen. Daar is natuurlik ‘n buitekans dat Usain Bolt ‘n terugkeer gaan maak en by die vierde agtereenvolgende Spele goud gaan wen (Nog net Carl Lewis in die verspring en Al Oerter in die skyfwerp kon dit voorheen regkry.) Maar dis waarskynlik net dagdromery.
Eliud Kipchoge van Kenia is die verdedigende kampioen en wêreldrekordhouer in die marathon, maar hy gaan nie op ‘n drafstap wen nie. Kipchoge het einde verlede jaar in London vir die eerste keer in elf marathons slae gekry danksy oorpyn en krampe en sy voorbereiding is gekniehalter omdat volgende week se Hamburg-marathon uitgestel is. Kenenisa Bekele van Ethiopië gaan hom harde bene laat kou voordat hy oor die laaste paar kilometer kan wegbreek. Suid-Afrika se Elroy Galant kan onder die voorste tien eindig. Sy spanmaat Stephen Mokoka gaan Kipchoge-hulle oor die vinnige eerste 20km jag, en halfpad uitbrand.
Die 21-Jarige Noorweegse wunderkind Jakob Ingebrigtsen gaan met die Ugandese superster Timothy Cheruiyot in die 1 500m afreken.
Wade van Niekerk gaan die 400m weer wen as hy betyds kan kwalifiseer, maar hy gaan sy hande vol hê teen ‘n paar baie belowende Amerikaners.
Karsten Warholm van Swede gaan Kevin Young se 29-jaar-oue wêreldrekord in die 400m hekkies verpletter.
Naomi Osaka gaan die grootste ster in Japan word deur die goue medalje in die vrouetennis te wen.
Behalwe vir Wade en die Blitsbokke se goud, gaan Suid-Afrika een silwer en twee brons medaljes wen. Apartheid gaan die skuld vir die vrotsige vertoning kry.